HNP lê klag van haatspraak teen BFLF

Die HNP het vandag ‘n klag van haatspraak by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie teen die organisasie Black First Land First (BFLF) gelê na aanleiding van ’n verklaring wat deur die BFLF op hulle webblad sowel as op Facebook geplaas is.

Mnr. Peet Joubert (foto), onderleier van die HNP, sê in sy klagte dat BFLF (na aanleiding van ’n beweerde verkragting van ’n swart minderjarige deur ’n blanke verdagte) in hulle verklaring die veralgemening maak dat alle Blankes verkragters en moordenaars van swart mense is. Die BFLF sê verder

  1. dat geen Blanke vervolg word vir sogenaamde misdade teen Swartes nie;
  2. dat alle beweerde blanke oortreders rassiste is teenoor Swartes;
  3. dat blanke mans in Orania, op plase, in voorstede en in werkplekke Swartes onderwerp aan seksuele slawerny, en
  4. dat die beweerde oortredings deur Blankes ’n oorlogsverklaring teen Swartes is.

Mnr. Joubert sê hierdie aantygings deur die BFLF is onwaar. Dit is rassehaat en is haatspraak wat rassehaat verder stimuleer.

Die BFLF se verklaring soos dit op Facebook verskyn, is as bewys saam met die klagte by die Menseregtekommissie ingedien.