Eiendom kan nie niks werd wees

TLU SA het kennis geneem van ‘n mediaberig waarin die uitvoerende hoof in die kantoor van die waardeerder-generaal aangedui het dat sommige eiendomme wat aan die staat behoort en wat geskik is vir grondhervormingsdoeleindes, geen geldwaarde het nie. In dieselfde asem word gesê dat sommige eiendomme wat in privaatbesit is maar wat nie tans gebruik of benut word nie, geen ekonomiese waarde sal hê nie.

“TLU SA bevraagteken hierdie sinnelose argument met groot agterdog aangesien dit die weg mag baan vir die rampspoedige beleid van Onteiening sonder Vergoeding waarmee die regering tans besig is”, aldus mnr. Louis Meintjes (foto), president van TLU SA. “Om te beweer dat enige eiendom wat bekom en besit word oornag as ‘waardeloos’ geag word, is belaglik. TLU SA verwerp hierdie toedrag van sake en sal alles moontlik doen om te verhoed dat privaat besitreg op hierdie wyse geminag word. Dit sal geen ander gevolg hê as om die afwaartse spiraal van ekonomiese ineenstorting te versnel nie”.

Na aanleiding van die waardeerder-generaal se opmerking, het ‘n senior regskenner die waardeerder-generaal se bekwaamheid betwyfel. Hy het die uitspraak as “bisar” beskryf. Hy wys daarop dat die waardeerder-generaal waarskynlik ‘n ander deuntjie sal sing wanneer iemand vir wie die staat geld skuld, in ‘n bevoegde hof ‘n lasbrief vir eksekusie sou bekom, waarna die balju die grond op ‘n veiling aan die hoogste bieër sou moes verkoop.