Die feite oor grondhervorming

Sedert 1994 het die staat altesame 8,2 miljoen hektaar grond bekom in die grondhervormingsproses van restitusie en herverdeling. Hierdie proses kos die land tot op hede R39,2 miljard. Hiervan het eisers in 93% van alle geslaagde grondeise verkies om geld te neem en nie grond nie.

Dié statistiek, wat van die regering self bekom is aan die hand van parlementêre vrae aan die minister van landelike ontwikkeling en grondhervorming, is die naakte waarheid oor grond in Suid-Afrika.

Dr. Pieter Groenewald van VF Plus sê tog vertel die ANC en Cyril Ramaphosa aan die wêreld dit is nou nodig om grond sonder vergoeding te onteien om die “onregte” van die verlede reg te stel en omdat “die massas grondhonger is”.

“Die statistiek vertel egter in die eerste plek dat die ‘massas’ oënskynlik nie werklik ʼn versugting na grond het nie, maar eerder na geld, en dat die proses tot op hede eerder gesien kan word as ʼn manier om maklik geld te bekom.

“Daarbenewens erken die staat hy is in besit van feitlik al die grond wat oor 24 jaar met belastingbetalers se geld aangekoop is.

“Miljoene hektaar grond wat dus oor 24 jaar aangekoop en betaal is, kan oor die volgende 24 jaar uitgedeel word sonder dat dit ʼn sent sal kos, en sonder dat ʼn enkele hektaar van enige persoon afgeneem of gekoop hoef te word. Die staat erken hy besit sowat 17 miljoen hektaar grond,” sê dr. Groenewald.

In antwoord op die VF Plus se laaste vrae is die antwoord onder meer dat 3,3 miljoen hektaar sedert 1994 deur die restitusieproses bekom is en 4,9 miljoen hektaar deur herverdeling. Dit is ʼn totaal van 8,2 miljoen hektaar.

Die restitusieproses het R21,6 miljard beloop en die herverdelingsproses R17,6 miljard. Wat restitusie aanbetref, is ʼn bedrag van R13,5 miljard aan eisers betaal wat geld bo die grond verkies het.

“Bogenoemde dien ook as bewys dat die ANC die publiek doelbewus bedrieg deur voor te gee boere is ʼn groot rede waarom die grondhervormingsproses sloer en omdat pryse opgeblase is.

“Aangesien 93% van eisers eerder geld as grond verkies het, beteken dit die staat moes in feitlik alle gevalle die boer en daarna ook die eiser vir dieselfde grond betaal wat die prys vir een stuk grond dus aansienlik duurder gemaak het. In sommige gevalle tot 63%.

“Hierdie bedrag beloop R13,5 miljard volgens die parlementêre antwoord. Die verkoper het hiermee niks te make nie. Die regering het ook reeds erken hy besit tans vierduisend plase wat vir herverdeling gebruik kan word.

“Die regering erken ook dat 90% van vorige herverdelingsprogramme misluk het. Hierdie plase is ook in die staat se besit.”

Dr. Groenewald beskuldig die ANC-regering dat hy besig is om die land en die wêreld te bedrieg oor die ware situasie rondom grondhervorming in Suid-Afrika. Hy is bereid is om sodoende ʼn vlam voor ʼn kruitvat te hou, beleggers te verdryf en voedselsekerheid te bedreig net om sy eie mislukking as regering te verberg en kiesers na die stembus te lok.

“Hy mislei veral die publiek deur te sê onteiening sonder vergoeding is die enigste manier om die verdeling van grond te bespoedig.”