Deur my Lens

Die aanstelling van die Amerikaanse regter Brett Kavanaugh as regter van die Hooggeregshof in die VSA, en wat die aanstelling vooraf gegaan het, is ’n saak wat weer die soeklig op bewerings laat val.

Sonder om te wil ontken dat daar wel vele gevalle van seksuele ongerymdhede in die wereld is, word dit egter toenemend gebruik as sielkundige wapen om mense te benadeel op een of ander wyse.

Wat egter meer verontrustend is, is die feit dat vroue dikwels omgekoop word om bewerings van seksuele aanranding aan die media bekend te maak, selfs dekades nadat dit werklik gebeur het, en die moontlikheid van bewysbaarheid uiters skraal is.

Die argument dat vroue skugter en bang is om so ’n ervaring van verkragting of aanranding dadelik bekend te maak deur ’n klag te lê by die owerheid, is verstaanbaar, maar word onverstaanbaar as dit twee tot drie dekades later nie meer ’n probleem is om na die sensasie soekende media te gaan met die verhaal nie.

Die tendens het nou mode geword, en baie mense word daardeur geraak, waarvan baie skuldig is aan die wandaad, maar daar is ook diegene wie se loopbaan en gesinslewe verwoes word deur gerugte van valse beskuldigings na baie hare verloop het.

Hiervan is die Brett Kavanauugh geval waarskynlik die beste voorbeeld, want as hy beskuldig word van aanranding nadat 36 jaar verloop het, en die klaer nie eers kan sê waar dit gebeur het nie, dan ruik dit na dooie rot, veral in ’n tyd waar sensasie en aftakeling van die medemens ’n nuwe wending geneem het.

Net soos wat seksuele teistering ’n wrede en onaanvaarbare daad is, net so onaanvaarbaar is dit om onskuldige mense se lewens te verwoes met twyfelagtige beskuldigings wat dui op ’n wêreld wat siek geword het en ’n mensdom wat die norme en standaarde van fatsoenlikheid oorboord gegooi het.

Klein Knapie