VSA en Korea wil weer praat

Die Amerikaanse Wit Huis woordvoerder, Sarah Sanders, het bekendgemaak dat voorbereiding gedoen word vir ’n tweede ontmoeting tussen president Donald Trump en Kim Jong-Un van Noord-Korea.

Volgens die woordvoerder het president Trump ’n brief van Kim Jong-Un ontvang waarin die moontlikheid van ’n opvolggesprek gevra word.

Sanders sê die brief is in ’n positiewe trant gerig aan die president en die Wit Huis staan gereed om te begin met die nodige reëlings.

Die twee leiers het tydens die eerste ontmoeting in Singapoer onderneem om so gou moontlik ’n tweede gesprek te voer, maar tot hede is geen verdere reëlings of datum bepaal nie.

Alhoewel president Trump ’n gunstige uitspraak gelewer het oor die regering van Noord-Korea, word die wêreldwye sanksies steeds toegepas en sal glo van krag bly tot die kernwapen ontwikkeling en vervaardiging daarvan beëindig is.

President Trump het gesê die sanksies bly van krag tot Noord-Korea se aanleg van interkontinentale missiele afgetakel en vernietig is.