VSA bedreig die Midde-Ooste

Die minister van buitelandse sake in Iran het Amerika versoek “om te begin optree soos ’n normale staat” nadat die land verskeie groot beleggers verloor het weens die VSA se dreigemente.

Die spanning het gestyg tussen die VSA en Iran nadat president Donald Trump die wêreld se sakemanne gewaarsku het dat hulle groot verliese kan ly as hulle voortgaan om sake te doen met Iran.

Die optrede van die VSA volg nadat hy Iran versoek het om die Obama Kernverdrag te hersien aangesien daar te veel skuiwergate is wat Iran in staat stel om steeds kernwapens te ontwikkel en te vervaardig.

Die waarskuwing van Trump aan sakelui het veroorsaak dat verskeie groot instansies soos Frankryk se oliereus Total en Volkswagen van Duitsland besluit het om te onttrek uit Iran.

Die Iranse minister sê dit is waar dat Amerika nou ’n bedreiging word vir die hele Midde-Ooste en die hele wêreld weens sy sanksie beleid en baasspelige optrede.

Die VSA se onttrekking uit die Obama akkoord met Iran het daartoe gelei dat Iran die Europese lande versoek het om die akkoord in stand te hou, maar Trump se waarskuwing aan sakelui het meegebring dat die akkoord wat handel met Iran verseker, nie werklik instand gehou word nie.

Foto – Mohammad Javad Zarif