Swak opleiding rede vir misdaad styging

Die rede vir die buitensporige hoë misdaad wat deur die Suid-Afrikaanse minister van polisie bekendgemaak is, is nie omdat daar te min polisiebeamptes is, maar omdat die lede van die polisiemag nie na behore opgelei is nie. Mense word sonder genoegsame opleiding aangestel en is dus onbevoeg om die werk van ‘n polisieman te kan doen. Daarby is die dissipline in die polisiemag swak. Sonder dissipline kan geen polisiemag na behore funksioneer nie.

Dit is die kommentaar van die onderleier van die HNP, mnr. Peet Joubert (foto).

Hy sê ‘n verdere leemte in die polisiediens is dat die nodige spesialis-eenhede afgeskaf is, waarsonder misdaad nie beheer kan word nie.

“Voorkoming van misdaad word wêreldwyd toegepas waar die polisie oor ‘n doeltreffende misdaad-inligtingsdiens beskik. Suid-Afrika se misdaad-inligtingsdiens is tot niet. Die polisie kry dus nie vooraf die nodige informasie nie. Sonder dié informasie het die polisie nie die vermoë om beplande misdaad vooraf te identifiseer nie en kan dan nie daadwerklik voorkomend optree nie.

“Vir die minister van polisie om dus te pleit vir meer lede in die polisie, sal nie die probleem aanspreek nie. Kundigheid, opleiding en dissipline moet in plek kom om misdaad in Suid-Afrika te kan bekamp,” sê mnr. Joubert.

Die feit dat plaasmoorde nou as ‘n aparte statistiek bekendgemaak is, maak dit ‘n noodsaaklikheid dat spesialis-eenhede onmiddellik aangestel moet word om plaasmoorde stop te sit. “Ons moet onthou dat met die afskaffing van die kommandostelsel is daar belowe dat ‘n plaaswagstelsel in die lewe geroep sou word. Daar is belowe dat reserviste gewerf sou word en dat hulle polisievoertuie sou hê om hulle werk te doen. Daarvan het dadels gekom.

“Die HNP glo nie die minister van polisie se beloftes dat misdaad hokgeslaan sal word nie. Dit kan nie gedoen word as die nodige kundige maatreëls nie met dringende spoed geïmplementeer word nie”, sê mnr. Joubert.