Suid-Afrika verbeter sy status as misdaad hoofstad

Met die bekendmaking van die jongste misdaadsyfers, is dit net weer bevestig dat Suid-Afrika sy plek as misdaadmekka verbeter het.

Daarbenewens is dit nou ook duidelik dat die Wes-Kaap tans die gevaarlikste gebied in die land is.

Bheki Cele, wat minister van polisie is nadat hy ‘n klompie jare gelede ook betreklik kortstondig kommissaris van polisie was, moes erken dat daar ‘n probleem is met misdaad.

Feitlik alle misdade het gestyg.

Sewe en vyftig mense word daagliks in die land vermoor, en dit is net duskant die 21 000 per jaar. Die moordsyfer het met 6,9% gestyg, en dit is die sesde agtereenvolgende jaar dat die moordsyfer styg. Suid-Afrika se moordsyfer is nou 35,1 per 100 000 van die bevolking teenoor die wêreldgemiddeld van 7 per 100 000 van die bevolking. Dit beteken Suid-Afrika se moordsyfer is vyf keer hoër as die wêreldgemiddeld.

Verkragting, seksuele misdrywe, bank rooftogte en veral transito rooftogte het skerp toegeneem. Ontleders sê die situasie grens aan ‘n oorlogsone.  “Dit is duidelik dat die vrede en voorspoed wat vaan 1994 belowe is, saam met Mandela se psigose van vrede, harmonie en naasteliefde, beslis nie bestaan nie,” was een ontleder se kommentaar aan Die Vryburger.

Meer as 2 miljoen misdade is aangemeld, en dit is bekend dat talle mense nie meer misdaad aanmeld nie as gevolg van die onwilligheid of onbekwaamheid van die polisie.

Dr. Ieter Groenewald van VF Plus sê Suid-Afrika is ʼn gewelddadige land en die publiek kan met reg sê hulle voel onveilig en dat misdaad toeneem in Suid-Afrika. Dit ten spyte van geringe afnames in motorkapings en rooftogte by woonhuise in die laaste boekjaar.

Volgens die polisie was daar 62 plaasmoorde in die 2017/18-boekjaar. Oor die afgelope ses jaar was daar ʼn toename van 10,7% in plaasmoord.

TLU SA, wat bekend is vir die betroubaarheid van sy plaasmoord en –aanval databasis, stem nie saam met die polisie se syfers nie, en sê volgens hulle databasis is 70 plaasmoorde geregistreer wat bykans 10% meer is as die amptelike statistiek.

Die voorsitter van TLU SA se veiligheidskomitee, mnr. Henry geldenhuys, sê hierdie verskil, asook die noodsaaklikheid om uit een mond te praat oor ‘n onderwerp wat toenemende internasionale aandag trek, vereis konsolidasie. In hierdie verband het TLU SA etlike pogings aangewend om ‘n afspraak met die minister van polisie te maak ten einde hierdie verskil asook ander verbandhoudende kwessies met hom te bespreek, maar sonder enige konstruktiewe reaksie.