Steve Hofmeyr en die Ja-stem

Die HNP het in ‘n verklaring met waardering kennis geneem dat mnr. Steve Hofmeyr reeds by verskeie geleenthede verskoning gevra het omdat hy in 1992 met die referendum Ja gestem het.

Die hoofsekretaris van die HNP, mnr. Louis van der Schyff, sê mnr. Hofmeyr het die moed om te sê om ja te stem was ‘n fout, maar die man wat die referendum afgedwing het en die politieke mag aan die kommunistiese ANC/SAKP weggegee het (mnr. FW de Klerk), het nie die moed om sy oorgawe te erken en verskoning te vra nie.

Mnr.van der Schyff wys dan op die feite in 1992.

“Die vraag in die referendum was: “Ondersteun u die voortsetting van die hervormingsproses wat die Staatspresident op 2 Februarie 1990 begin het en wat op ‘n nuwe grondwet deur onderhandeling gemik is?”

“Die “nuwe grondwet” is met die ANC by Kodesa onderhandel. Die onderhandelde grondwet is nooit aan die kiesers of die parlement voorgelê vir goedkeuring nie.

“Op 20 Desember 1993 sê dr. WJ Snyman van die KP in die parlement (Hansard kol 16236): “Die verkiesing wat die agb Staatspresident op 24 Januarie verlede jaar beloof het, het nooit plaasgevind nie…”

“Dr Snyman het mnr. De Klerk aangehaal waar De Klerk gesê het:

“Ons is in eer gebonde om… wat die drie huise van die Parlement die geleentheid sal bied om hulle uit te spreek oor enige wesenlike voorgestelde wysigings aan die grondwet,” en

Langs hierdie weg sal die legitimiteit van enige oorgangsregering op ‘n demokratiese wyse bo alle twyfel gestel word”.  (Hansard kol 16237)

“Die onderhandelaars by Kodesa het die grondwet gewysig, nie die parlement nie. Die kiesers van Suid-Afrika het nie geleentheid gehad om hulle oor die onderhandelde grondwet uit te spreek soos mnr De Klerk belowe het nie.

“Die grondwet van Suid-Afrika is gewysig en geïmplementeer sonder dat die parlement daaroor besluit het. Dit was onwettig’, sê mnr. Van der Schyff