Rusland bult sy militêre spiere

In Rusland se grootste militêre oefening word die land se slaankrag vertoon soos wat dit nog nooit tevore gedoen is nie.

Meer as 300 000 soldate sal aan die week lange oefening deelneem terwyl Sjina ook sy beskeie deel bydrae en 3 000 soldate stuur om ervaring en kennis op te doen.

Die reuse magsvertoning sal ook meer as 36 000 oorlogstenks, kanonne, vliegtuie, helikopters en ander artillerie gebruik vir die oefening waaraan 80 oorlogskepe sal meedoen.

Rusland het die afgelope drie jaar miljarde dollar spandeer aan die opgradering van sy militêre toerusting en maak daarop aanspraak dat hy oor ballistiese missiele beskik wat deur geen militêre toerusting uitgeskakel kan word nie.

Militêre deskundiges sê alhoewel Rusland sy militêre vermoë ’n reuse hupstoot gegee het, kan die land nie ’n volskaalse oorlog bekostig met sy huidige swak ekonomiese vermoë nie.

Die deelname van Sjina word deur Westerse waarnemers beskou as ’n opleidingsgeleentheid vir die Sjinese wat nie bedrewe is in oorlogvoering nie, en omdat dit ’n eerste keer is dat die twee lande saam optree, kan dit gesien word as ’n boodskap van samewerking waarvan die Weste moet kennis neem

Foto – Russiese oorlogsvaartuie in oefening