Ramaphosa sê los ons uit

Grondonteiening sonder vergoeding sal plaasvind, ongeag of Suid-Afrikaners, Donald Trump of die Algemene Vergadering van die Verenigde Nasies, daarvan hou of nie.

Dit was die uitdagende uitspraak van Cyril Ramaphosa.

Intussen sê VF Plus dat die openbare sittings voor die parlementêre grondwetlike hersieningskomitee oor moontlike wysigings aan Artikel 25 van die Grondwet om voorsiening te maak vir onteiening sonder vergoeding, besig is om ‘n verleentheid te raak vir die ANC-regering.

Dr. Corné Mulder (foto) sê dit raak duidelik dat die voorleggings nie uitspeel soos die ANC voorsien het nie. Die oorgrote meerderheid voorleggings deur kundige partye is nie net sterk gekant teen die onteienings-voorstel nie, maar lewer ook skerp kritiek op ANC-beleid en bevoegdheid oor die mislukking van die grondhervormingsprogram tot dusver.

Die hersieningskomitee is tans besig met sy tweede ronde sittings en die sterk teenkanting teen die verandering van Artikel 25 van die Grondwet het sterk na vore gekom.

Hierdie sittings die afgelope vier dae was spesifiek om instellings wat in hulle skriftelike voorleggings gevra het om mondelings te kom getuig die geleentheid daartoe te gee. Die teenkanting teen die wysiging van Artikel 25 van die Grondwet word duidelik onderstreep deur die feit dat 33 of (82%) van die 40 mondelinge voorleggings gekant was teen die verandering van Artikel 25 van die Grondwet. Slegs 7 of (12%) was ten gunste daarvan.

Die ANC sal hierdie teenkanting, asook die meerderheid teenkanting wat in skriftelike voorleggings uitgespreek is, nie kan ignoreer nie. Meer as 700 000 skriftelike en elektroniese voorleggings is ingedien waarvan sowat 60% teen die wysiging gekant was.

ʼn Proses van openbare deelname is van die grootste belang om legitimiteit te verleen aan die skep van enige nuwe wet, maar ook aan enige beplande verandering van ʼn wet. In hierdie geval meer so aangesien die land se Grondwet ter sprake is, sê dr. Mulder.