Parlement keur Zuma se pensioen goed

Die regerende ANC party het ‘n mosie goedgekeur dat die oud-afgesette president, Jacob Zuma, pensioen voordele moet ontvang. Dit ten spyte van sy beweerde betrokkenheid by staatskaping, sy R17 miljoen regskoste rekening en die astronomiese koste aan sy Nkandla woning waar hy sy harem huisves.

195 lede van die parlement het die mosie goedgekeur terwyl 95 lede daarteen gestem het.  Dit bewys volgens ontleders weereens die futiele “demokratiese” stelsel waarin Suid Afrika verkeer.  Selfs die mees korrupte word eenvoudig gesteun aangesien hy een van hul kaders is.

VF Plus het daarenteen voorgestel dat Zuma se pensioen na R1 per maand verminder word. Hulle het ten tyde van die Nkandla-sage al voorgestel dat sy salaris na R1 verminder word.

Dr. Corné Mulder, hoofsweep van VF Plus, sê dat die persoon in die kantoor van die president respek moet verdien. “President Jacob Zuma se optrede het nie respek verdien nie.

“Indien daar een persoon in die land is wat meer as enigiemand anders onregmatig verryk is, is dit pres. Zuma. Hy het ʼn persoonlike huis ter waarde van R246 miljoen gekry waaroor die belastingbetaler betaal het.

“Die ANC-regering betaal nou die prys vir wat oor die laaste tien jaar onder pres. Zuma se leierskap gebeur het, en verstommend genoeg probeer die ANC die voormalige president steeds help en beskerm,” sê dr. Mulder.

Intussen het Zuma aan studente in Mthatha gesê die konsep staatskaping bestaan nie en daar is “geen bewyse dat staatskaping bestaan nie”.