Orkaan Florence verswak grootliks

Orkaan Florence is op weg na die Amerikaanse ooskus en het gistermiddag sy opwagting in die deelstaat Carolina gemaak, maar slegs as ’n kategorie 2.

Alhoewel dit drasties verswak het teen vroeëre berigte dat dit ’n kategorie 4 orkaan is, hou dit steeds ernstige gevare in, veral die swaar reën wat verwag is.

Weerkundiges waarsku dat dit nog steeds groot skade kan aanrig, en die wind wat teen sowat 170 kilometer per uur woed, bly ’n ernstige gevaar.

Swaar reën neerslae is reeds op verskeie plekke gerapporteer, en die owerhede het gewaarsku dat die golwe tot 4 meter hoog langs die kus is en het mense versoek om die kusstreke te vermy.

Die noodtoestand wat afgekondig is, bly van krag en mense wat nie die gebied verlaat het nie, is gevra om uiters versigtig te wees.

Meer as 1,5 miljoen mense het die afgelope drie dae hul eiendom verlaat en per motor vertrek na veiliger gebiede.

Foto – Kort voor die storm aan land kom