Nasionaliste kort op Merkel se hakke

In die jongste peilings wat in Duitsland gedoen is, blyk dit dat die nasionaliste al nader kom om sterker te word as die kwynende Christen Demokratiese Unie van Bondskanselier Angela Merkel.

Die nasionalistiese Alternatief vir Duitsland (AfD) groei steeds terwyl dit lyk asof die meer konserwatiewe kiesers hulle vertroue in Merkel verloor het.

Volgens die peilings is die Sosiaal Demokratiese Party wat tans in koalisie met Merkel se regering is, nie meer die tweede sterkste party nie, want die AfD het hulle verby gegaan in ondersteuning.

Volgens die gesaghebbende meningspeiling het die AfD met 2% gestyg in ondersteuning, en staan hulle nou as die tweede grootste party met minstens 18% van die kiesers se steun.

Merkel se CDU en haar vennoot in Bavaria, die SDU, se steun het gedaal tot 28% wat die swakste is sedert 1997 se opname.

Die AfD se vinnige groei kom sedert die verkiesing in 2017 en politieke kenners sê indien die AfD se groei teen die tempo voortgaan, sal hulle waarskynlik die grootste steun geniet tydens die volgende algemene verkiesing van Duitsland.

In die verkiesing van 2017 het die AfD, wat toe slegs twee jaar bestaan het, die eerste keer aan ’n verkiesing deelgeneem, en toe 12,5% van die stemme getrek.

Foto – Kanselier Angela Merkel