Misdaad: stop transformasie nou!

Die skokgolwe oor die skerp styging in die meeste ernstige misdade, gaan nog lank met ons wees, en daarom sal die debat oor die oorsake en oplossings nog lank voortduur, sê mnr. Louis Meintjes, president van TLU SA.

“Uiteraard sal die kwessie van misdaad en plaasmoorde weer aandag kry op ons jaarkongres volgende week Woensdag in Pretoria, alhoewel die tema is ‘Dag Zero vir voedsel op die Tafel’”, sê mnr. Meintjes.

“Die feit dat moorde in die algemeen met 6,9% gestyg het, en dat dit die sesde agtereenvolgende styging is, is meer as kommerwekkend.  Vir die landbouers is dit net so kommerwekkend dat daar tans 178 beeste, 249 skape en 115 bokke per dag gesteel word.

“Ook veediefstal neem toe, terwyl diefstal van gewasse ook aan die toeneem is. Baie misdade word nie eens meer aangemeld nie as gevolg van die gebrek aan vertroue in die polisie.

“Die gebrek aan vertroue het gekom saam met transformasie. Eers wou die polisie van ‘n “mag” na ‘n “diens” transformeer, en het daarmee van sy tande laat trek. Toe moes die polisie gedemilitariseer word, en later het hulle weer die militêre range teruggekry.  Dit het onsekerheid en koersloosheid geskep, net soos transformasie op ander plekke en terreine dieselfde onsekerheid en koersloosheid geskep het. Daarbenewens is broodnodige kundigheid uitgefaseer ter wille van ‘n sieklike rasgebaseerde transformasie. Dit het nie net gelei tot die verswakking van die polisie nie, maar ook van Eskom, SAL, Poskantoor, Transnet, Prasa, Denel, SAUK en ander.

“Misdaad gaan nie minder word nie. Binne die volgende vyf jaar gaan die laaste van die ou kundigheid in die polisie met pensioen gaan, en sal die transformasie sy volle siklus bereik het. Misdaad gaan styg in plaas van afneem.

“Die tyd het aangebreek dat transformasie gestop word, dat gekyk na kundigheid en bekwaamheid, gepaardgaande met ‘n passie vir dienslewering van die hoogste vlak, en ‘n onberispelike werksetiek. Dan sal misdaad opgelos word, sal Eskom tariewe onder beheer bly, sal pensioenarisse nie wonder of die Poskantoor hulle geld gaan voorsien nie, en sal minder treine afgebrand word,” sê mnr. Meintjes.