Hou aan boer!

Vir boere moet daar tans twee belangrike beginsels geld: hou aan boer, en vertrou op die Liewe Heer.

Dit was die advies van adv. Roelof du Plessis (SC), aan boere tydens TLU SA se kongres in Pretoria.

Adv. Du Plessis het gesê hy is nie besonder bekommerd oor die moontlikheid van onteiening sonder vergoeding nie. Hy sê Suid-Afrika is gebind aan internasionale reg, wat bepaal dat in normale omstandighede markwaarde betaal moet word. Die toets vir markwaarde is die gewillige verkoper, gewillige koper beginsel.

“Daar moet nie geweldig gevrees word vir onteiening sonder vergoeding nie, mits dit aan die internasionale standaarde voldoen en mits dit in die uiterste uitsonderlike gevalle gedoen word. Dit kan ook nie onredelik wees nie.

“Die howe sal nie summiere en onredelike onteiening sonder vergoeding toelaat nie. Daar moet goeie redes wees. ‘n Stuk grond waar die eienaar in die buiteland sit en daar niks met die grond gedoen word nie, sal beter gronde vir onteiening wees as ‘n produserende plaas waar die eienaar bydra tot die belastingkas,” sê adv. Du Plessis.

Hy het ook daarop gewys dat plase wat tans nog grondeise op hulle het, nie onteien kan word nie en dat di staat dus ‘n stok in sy eie wiel gedruk het.

Adv. Du Plessis is nog hoopvol dat regsaksies kan slag. “Die Grondwet is daar en dit moet gebruik word. Daar moet nie weggeskram word van die howe nie, maar die saak moet reg aangebied word.”

Daar gaan nie by ‘n einde van onteiening gekom word nie. Die grondeise sal nie ophou nie. “Ons moet egter bly baklei, maar op die Afrika-manier en baie tydsaam. Tans lê die baklei nog binne die regstelsel en grondwet en internasionale reg. Boere is nie so uitgelewer soos hulle dink nie. Onteiening is nie so maklik nie,” sê adv. Du Plessis.