Genl. Geldenhuys oorlede

Die voormalige hoof van die weermag, genl. Jannie Geldenhuys, is in die ouderdom van 83 jaar oorlede.

In sy huldeblyk sê dr. Pieter Groenewald van VF Plus dat genl. Geldenhuys as generaal in die ou Suid-Afrikaanse weermag ʼn persoon was wat respek afgedwing het nie net by gewone troepe en manskappe nie, maar ook by sy teenstanders. Dit het van hom ʼn uitsonderlike soldaat gemaak wat nie net die militêre aspek van oorlogvoering gesien het nie, maar ook die politieke- en menslike aspek daarvan.

“Met sy afsterwe kan tereg gesê word ʼn biblioteek het afgebrand wat sy militêre kennis aanbetref. Hierdie kundigheid is saam met hom weggeneem. Genl. Geldenhuys het wel boeke oor oorlogvoering geskryf, en dié nalatenskap sal altyd onthou word.

“Hy was veral geliefd onder sy troepe waar hy bekendheid verwerf het dat hy nie gehuiwer het om meermale onder doodsgevaar van voor te lei nie. Vandaar ook sy bynaam, die Troepe se Generaal,” sê dr. Groenewald.

Genl. Geldenhuys is op 5 Februarie 1935 op Kroonstad gebore en het in 1952 op Bethlehem gematrikuleer. In 1953 het hy as vrywilliger by die weermag aangesluit en sy opleiding ontvang by die Militêre Gimnasium in Voortrekkerhoogte, Pretoria.

Met sy aftrede in 1990 kon met reg gesê word die geliefde generaal Geldenhuys (SSA, SD, SO en SM) was hoof van een van die sterkste en mees gevreesde weermagte in Afrika, met wapens en krygsvernuf wat met die beste in die wêreld kon vergelyk, sê dr. Groenewald.