“Boer” mag gebruik word

Die bevinding van die Grondwethof dat die woord “Boer” – soos gebruik in ʼn sogenaamde struggle-lied – op sigself nie haatspraak is nie, maar dat dit wel onvanpas kan wees, is ʼn tegniese uitspraak en kan verkeerdelik vertolk word dat die woord vryelik in sulke liedjies gebruik kan word.

Dr. Pieter Groenewald van VF Plus sê in sy reaksie op die uitspraak die werklikheid is dat die gebruik van die woord “Boer” gelees moet word binne die konteks van die liedjies waarin dit gebruik word aangesien dit nou reeds sinoniem geraak het met haatspraak in slagspreuke soos “kill the boer, kill the farmer” en “shoot the boer” wat oudpresident Jacob Zuma baie sing.

“Die spesifieke lied waarin gesing word ‘hit the boer’ (slaan die boer), kan daarom in hierdie konteks gesien word as aanhitsing tot geweld teen boere, maar dit is ook bekend dat ‘Boer’ in besonder verwys na die Afrikaner.

“Die VF Plus sou daarom verwag dat die Grondwethof ʼn sterker uitspraak teen die gebruik van die woord moes lewer, en daarop moes gewys het dat dit moontlik kan lei tot aanstigting tot geweld.

“Die vraag moet ook gevra word of liedjies wat sê ‘slaan die swartes’, oor dieselfde kam geskeer sal word sou sulke liedjies ontstaan,” sê dr. Groenewald.

“Dit is jammer dat die Grondwethof ‘n gulde geleentheid verby laat gaan het om te wys dat wittes en veral die Afrikaner, ook slagoffers van rassisme is.”