Al meer chaos in skole

Skole in die sogenaamde Gauteng misdaadparadys is in chaos en al meer probleme sien die lig.

Slegs enkele voorbeelde wat die afgelope maand aandag gekry het, is ‘n leerling wat ‘n skootdans uitgevoer het by die Sikhululekile Secondary School in Pretoria, rassistiese leerlinge van die Genl. Smuts Hoërskool in Vereeniging wat verlede Vrydag betoog het teen wit onderwysers en geweier het om klasse by te woon, leerlinge wat by bende-gevegte betrokke geraak het en ‘n leerling van Eldorado Park Secondary School wat ‘n vuurwapen op ‘n onderwyser gerig het.

Ook in Noordwes gaan dit nie veel beter nie, en ‘n saak wat beslis tot op regeringsvlak aandag getrek het, toe sewentienjarige leerling by die Ramotshere High School in Dinokana, ‘n 24-jarige onderwyser aangeval en doodgesteek het.

Die VF Plus glo dat die wangedrag van leerlinge by skole in Gauteng die gevolg is van Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys, se pogings om gedragskodes by skole te verwyder en sy voortdurende inmenging in die bestuur van skole. Die probleme wat die afgelope maand by skole uitgebreek het, is ‘n simptoom van die afwesigheid van dissipline en disrespek vir enige vorm van gesag, sê mnr. Philip van Staden.

Die VF Plus het reeds in Augustus 2016, vir Lesufi gewaarsku om nie van gedragskodes in skole ontslae te raak nie en dat dit tot algehele chaos en wanorde in skole sou lei. Die waarskuwing van die VF Plus is nou besig om waar te word.

“Lesufi sal moet begin besef dat sy hardkoppige optrede besig is om skole in Gauteng heeltemal te omskep in wettelose instellings wat gaan dien as opleidingsentrums vir misdadigers eerder as opvoedkundige instellings waar leerders orde en dissipline moet leer,” sê mnr. Van Staden.

Foto: ter illustrasie