Prikkel: Ons Taalgebruik

‘n Ou skolastiese vraag is:  hoe voertsêk ‘n mens ‘n Engelse hond?  Ook in ligte luim was daar die Engelsman wat gesê het dat hy nie verstaan waarom Afrikaanse dames dink dat hy aan koue voete ly nie.  Want elke keer as hy tot ‘n Afrikaanse meisie toenadering soek dan bied sy hom ‘n “foot sack” aan.

Verstaan ons die draagwydte van ons Afrikaanse woorde?  Dit is immers die eerste vereiste van ‘n suiwer taalgebruik.  Dit is nie weer, nog ‘n pleidooi vir taalpurisme nie.  Dit gaan net oor die vraag of jyself verstaan wat jy sê.  Bedoel die woorde wat jy gebruik dit wat jy te kenne wil gee?

Ons het immers so ‘n mooi taal met ‘n verbeeldingrykse segswyse.

Die woord moedertaal en vaderland dien as voorbeelde.

Met moedertaal bedoel ek die taal van my opvoeding, die taal van my hart.  Daarmee druk ek my behoeftes, wense, my selfrespek uit.  Daarmee straal ek my identiteit uit, d.w.s. sê ek wie ek is.  Dit is ook die taal waarin ek bid.  Daarom respekteer en handhaaf ek my moedertaal.

Die begrip vaderland dra ‘n gesagsbeginsel, orde en respek, dit verbind my aan die land waar ek tuis is en so dui dit ook op my volksverbond.

Moedertaal en vaderland druk dus feitlik my hele bestaan uit.  Gebruik ons nog die woorde genoegsaam en sê ons daarmee wat ons wil sê?  Dieselfde geld vir ons hele taal, ons sinne en paragrawe.  Dit sê:  hier is ek, so is ek.

Hendrik v.d. Wateren