Politieke opportunisme byt altyd terug

Ons het reg van die begin gewaarsku dat politieke opportunisme geen langtermyn haalbaarheid het nie. Ons was reg.

Hier verwys ons na die besluit van die DA om na verlede jaar se plaaslike regeringsverkiesing, onnatuurlike politieke koalisies aan te gaan ter wille van posisies en mag.

In die proses het die DA hande gevat met die EFF van Julius Malema. Sedertdien is die DA baie versigtig om te sterk uitsprake te maak oor die sensitiewe grondkwessie. Die EFF het hulle ‘n paar keer op duidelike terme geplaas oor die grondkwessie, en alhoewel die DA nie noodwendig die EFF se eise nagekom het nie, is teenoorgestelde ook waar, naamlik dat hulle eerder verkies om die kwessie te omseil.

Ook was die DA genoodsaak om die koalisies te verbreed om die VF Plus in te sluit.  Die DA het homself bewys as ‘n party wat nie Afrikaner-vriendelik is nie. Sy leier, Mmusi Maimane, se vernaamste beleid was op ‘n stadium om sogenaamde rassisme uit te roei en mense wat enigsins iets sou gesê het wat blankes sou bevoordeel of slegs net erken, te vervolg. Die beste voorbeeld is sy venynige veldtog in dié verband toe hy sy voorganger, Helen Zille, absoluut polities gejag het oor haar opmerking dat kolonialisme nie net sleg was nie.

Die politieke onbetroubaarheid van die EFF het al sigbaar geword in Port Elizabeth, waar hulle die DA speaker en burgemeester verwyder het as gevolg van hulle skielike koalisieverandering.

Net so opportunisties is die VF Plus se jongste verklaring dat hy “verbind is tot veelparty regering.”  Dit kom uit die Pretoriase metroraad, waar die onbetroubare EFF, nou weer sy seile na die ANC-wind gespan het in ‘n poging om van die DA burgemeester ontslae te raak. Sou dit slaag, is die VF Plus ook sy setel op die burgemeesterskomitee kwyt, en seker vandaar die oordrewe lojaliteit aan die DA.

Ook in Johannesburg, waar die VF Plus betrokke is by die DA-beheerde raad, word verklarings uitgereik waarin die “veelparty regering” besing word, en waar dié party byna meer die lof van die DA besing as die DA self.

Behalwe die opportunistiese koalisievorming van die DA, is daar steeds nie weinig verskil tussen hulle en die ANC nie. As gekyk word na die interne woelinge in die Wes-Kaap, en spesifiek in Kaapstad, waar hulle moes konkel en knoei om uiteindelik van Patricia de Lille ontslae te raak, is daar maar weinig verskil met die interne gewoel in die ANC. Bowendien het die De Lille beheer ook gewys dat die DA nie so korrupsievry is as wat hulle wil voorgee nie, en selfs in Pretoria trek daar rokies van DA-wanbestuur en moontlike onreëlmatige tenders wat toegeken is.

Dit is byna tragies om te sien dat partye wat in koalisie met die DA is, en dit skynbaar steeds wil bly, ook indirek daarby betrek word.

Soms is dit beter om maar eenkant te bly met skoon hande, as dat daar later assosiasies gemaak word met polities twyfelagtige partye.

Dit bring ons weer terug by die huidige bestel.

Die eenheidstaat is ‘n mislukking. Hoe gouer Afrikaners dit besef, en hoe sterker die beweging vir selfbeskikking word, hoe helderder gaan die toekoms vir ons wees. In die huidige eenheidstaat, word die toekoms daagliks al meer duister, ongeag of dit ANC, EFF of DA is wat in beheer is.