Nog boere kap hakke in

TLU SA Noord-Kaap is die jongste affiliasie van TLU SA wat toegetree het tot die ander provinsies se sterk standpuntinname teen grondonteiening.

Mnr. Wollie Burger, voorsitter van TLU SA Noord-Kaap (foto), sê hulle boere steun TLU SA se standpunt dat onteiening sonder vergoeding niks anders is as georkestreerde en gewettigde diefstal is nie.

“Boere is keelvol om as weerligafleier te dien vir die mislukte staat wat deur die ANC-regering self geskep is. Kommersiële boere word deur die ANC-regering soos vyande van die staat behandel, terwyl hulle, selfs in swak landboutoestande, nog steeds genoeg voedsel vir die mense van Suid-Afrika produseer. As in aanmerking geneem word dat landbou verlede jaar van die min bedrywe was wat ’n positiewe bygedra tot RSA se handelsbalans gemaak het en een van die grootste werkverskaffers in ’n land is, terwyl werkloosheid steeds styg, sou regdenkende mense die boere daarvoor erkenning gee. Maar in stede daarvan word boere deur die ANC-regering en sy President as diewe voorgehou. Hierdie doelgerigte en vyandige optrede deur die ANC-regering dwing boere om alles in die stryd te werp om hul ondernemings en hul families teen hierdie rasgedrewe aanslag te verweer,” sê mnr. Burger.

TLU SA Noord-Kaap ondersteun ook die samewerking inisiatief tussen AfriForum, TLU SA en Sakeliga om die beginsel van die onteiening sonder vergoeding op alle wyses en vlakke teen te staan en die beginsel van eiendomsreg soos tans in die Grondwet vervat is, te beskerm.