Motorrubriek – Opel Grandland X 1,6T ENJOY AT

Wanneer daar gedink word aan Opel gaan my gedagtes onwillekeurig terug na 1962 toe ons Duitse buurman van die plaas langs ons, vir hom ‘n splinternuwe Opel Kapitan by De Kock’s Garage in Middelburg, by die toe nog, Transvaal gekoop het.

Van tyd tot tyd het hy my saam geneem wanneer hy gaan inkopies doen het en dit was ‘n ware fees om saam met hom te kon ry.

Die plaaslike verspreider van Opel op die oomblik is Williams Hunt en daar is 35 handelaars landwyd waar die Opel Grandland X 1,6T by aangekoop kan word. Dit is die nuutste toevoeging tot die Opel reeks en is die “groot” boet van die Crossland.

Daar is drie verskillende modelle beskikbaar in die reeks waarvan die Enjoy tweede in die reeks is. Alhoewel dit baie onderdele met die Peugeot 3008 deel, is dit ‘n heel ander voertuig. Die buitelyne dui daarop dat die Ingenieurs by Opel hulle voorbereiding en werk deeglik gedoen het. Aan die voorkant is die sierrooster op sy eie met die bekende Opel embleem in die middel van die sierrooster en LED hoofligte en agterligte sorg dat nag ritte met veiligheid aangepak kan word. Die voorste stamper, deurhandvatsels en kant spiëels is dieselfde kleur as die res van die motor met mat swart afwerking vir die luginlate aan die voorkant. 17 duim allooi wielnawe rond die buite prentjie heeltemal af.

Binne-afwerking is van hoogstaande gehalte en wanneer die voertuig betree word, voel ‘n mens onmiddelik tuis en ‘n gemaklike sitposisie kan ingeneem word. Opel gebruik AGR ontwerpte sitplekke en die doel daarvan is dat dit ontwerp is met die doel om meer gesondheids bewustheid te wek by die eienaars. Dit pas gerieflik aan by die vorm van jou liggaam en bied meer ondersteuning waar dit nodig is aan jou liggaam.

‘n Sat-nav-less IntelliLink 4.0 stelsel word gebruik en dit maak deel uit van die ander instrumente op die instrumentpaneel gemonteer. Die toereteller, snelheidsmeter en ander instrumente is regvoor die bestuurder gemonteer en kan maklik deur die boonste deel van die drie speek stuurwiel gelees word.

Die bagasie ruim is 1248 liters groot en waar daar soms by ander voertuie in hierdie groep ‘n probleem is vir “lang” been passasiers, is daar in hierdie motor meer as genoeg plek. Almal kan ‘n gemaklike sit posisie inneem.

Van die veiligheids toerusting wat gepas is sluit in ses lugsakke, ABS remme met ESP ondersteuning en Isofix koppelpunte. Die voorste remskywe is 304 mm geventileerde skywe en agter is daar 268 mm soliede remskywe gepas.

‘n Dwars gemonteerde, vier silinder inlyn, turbo aangejaagde, direkte brandstof inspuiting, petrol kragbron is geinstalleer en die krag wat voorsien word is 121 kW en die wringkrag is 240 Nm tussen 1400 en 4000 o.p.m. Aan die kragbron is ‘n ses spoed outomatiese ratkas gekoppel en die krag word aan die voorwiele voorsien.

Op die oop pad en in die dorp of stad is die padgedrag van hoogstaande gehalte en kan die voertuig behoorlik geniet word. Hierdie voertuig is ideaal vir ‘n rit na die wildtuin en moeder kan dit gebruik om die kinders na en van die skool te vervoer.

Voornemende kopers kan gerus hulle naaste Opel handelaar gaan besoek en dit vir ‘n toetsrit neem.