Krisis dreig in die Engelse paleis

Dit is skaars ’n maand na die kleurling vrou van Amerika met die Britse prins in die huwelik getree het, of die eerste skote klap tussen die Paleis en die bruid se pa wat in die VSA woon.

Adviseurs van die Britse Koninklike familie het nou ’n krisisberaad gehou oor die aanhoudende negatiewe uitlatings van Thomas Markle, die 74-jarige pa van die hertogin Meghan wat met Harry in die huwelik getree het.

Die Britse media berig dat koningin Elizabeth glo op die punt staan om maatreëls te neem om die “losbekkigheid” van die Amerikaner tot swye te bring.

Volgens persberigte verklap hy besonderhede oor sy dogter se kinderjare en haar leed van toentertyd waaroor sy en die Hertog hom ernstig kwalik neem.

Die vrees het glo by Koningin Elizabeth ontstaan dat die negatiewe publisiteit die beeld van die koninklike familie kan skaad sowel as die verhouding tussen Harry en sy vrou.

Daar bestaan nou onduidelikheid of Meghan met haar pa in kontak moet kom om die negatiewe publisiteit gestop te kry en of die koningin met ander maatreëls die saak moet beëindig.

Gerugte lui dat die verhouding tussen pa en dogter sodanig versleg het dat dit moeilik sal gaan om dit te verbeter.