Hewige aardbewing eis baie lewens

’n Kragtige aardbewing wat 7,1 op die Richterskaal geregistreer het, het Maandag die vakansie eiland Lombok van Indonesië vir ’n tweede keer geskud en meer as 90 mense het omgekom terwyl honderde beseer is.

Die eiland het honderde mense sonder ’n heenkome gelaat toe hulle woonplekke in duie gestort en talle naskokke paniek onder inwoners veroorsaak het.

Die nasionale ramp agentskap sê die dodetal sal na verwagting nog verder styg na mate reddingswerkers die puin probeer opruim.

Die elektriese toevoer sowel as die watervoorsiening is oor ’n wye gebied afgesny, en herstelwerk daaraan sal weke duur terwyl baie mense sonder ’n woonplek is.

Die Amerikaanse Geologiese Agentskap sê die aardbewing se kernpunt was 10 kilometer onder die grondoppervlakte, en die tweede skudding was hewiger as die vorige van ’n week gelede.

Die vorige aardbewing wat 6,4 geregistreer het, was 8 dae gelede en het die lewens van 17 mense geëis en tientalle is toe beseer.