Gwede is onkundig

Daar heers verbasing in landbou en politieke kringe oor Gwede Mantashe (foto), voorsitter van die ANC en minister van minerale, se uitspraak dat wit boere se plase beperk moet word tot 12 000 hektaar en die res sonder vergoeding onteien en aan swartes gegee moet word.

Daar word gevra van wanneer af ‘n minister van ‘n ander portefeulje kan inmeng by grondsake, terwyl hy nog nie eens sy eie omstrede mynbou handves kan finaliseer nie.

Mnr. Louis Meintjes, president van TLU SA, sê Mantashe weet nie wat hy sê nie en speel met voedselsekerheid. As ‘n Boer in die Karoo of Kalahari 15 000 hektaar het, terwyl 13 000 hektaar ‘n ekonomiese eenheid is, gaan hy met twee onekonomiese eenhede sit as hy 3 000 hektaar wil wegvat. Niemand gaan daardeur bevoordeel word nie.

Dr. Pieter Groenewald, leier van VF Plus, sê Mantashe se uitlating dien as bewys van die gevaarlike onkunde en die onrealistiese hantering van grond deur die ANC.

“Mantashe se uitlating is ondeurdag en wys dat die ANC self nie weet hoe om onteiening sonder vergoeding te implementeer nie. Dié party gryp nou na grashalms om sy populistiese siening te bevorder deur onrealistiese verwagtinge by sy ondersteuners te skep,” sê dr. Groenewald.

Dr. Groenewald daag die ANC uit om sy volledige planne ten opsigte van onteiening sonder vergoeding sonder verwyl op die tafel te plaas sodat almal kan sien dat dit onrealisties is, die ekonomie nog verder gaan vernietig en voedselsekerheid sonder twyfel in gedrang sal bring.