Grootpraat Turkye steier voor VSA

Turkye moes sy dreigement sluk nadat die VSA gewaarsku het om die Amerikaanse geestelike, Andrew Brunson, vry te laat uit aanhouding as hulle nie ernstige gevolge wil dra nie.

Turkye het ingestem om die geestelike se omstandighede met verteenwoordigers van Amerika te bespreek nadat die Amerikaanse Minister van Buitelandse Sake, Mike Pompeo, die Turkse regering gewaarsku het.

Minister Pompeo het met sy Turkse eweknie, Mevlut Cavusoglu, samesprekings gevoer in Singapoer verlede Vrydag en ooreengekom dat die aangeleentheid hanteer sal word sonder om die verhouding tussen die twee lande verder te benadeel.

Die 50-jarige Brunson is in Desember 2016 deur die Turkse polisie in hegtenis geneem tydens die mislukte staatsgreep toe duisende Turkse amptenare en universiteite se personeel afgedank of gevange geneem is.

Die Turkse president, Recep Tayyip Erdogan, het uit klaarblyklike paniek, enige iemand wat in die geringste mate van verdag voorgekom het, afgedank of in hegtenis laat neem.

Sedert die gebeure het die VSA versoek dat die saggeaarde geestelike vrygelaat word, maar die Turkse president het gesê hy laat hom deur niemand voorskryf nie.

Toe die VSA dreig met sanksies, het Turkye sy rug styf gemaak, maar uiteindelik besef dat president Trump die Turkse ekonomie ’n lelike knou kan toedien, en nou ingestem om samesprekings te voer.

Foto – Mike Pompeo en Mevlut Cavusoglu