Ekonomiese Oorsig: Augustus 2018

Deur Adam Jacobs

Samevatting

Internasionaal vertoon ekonomieë, globaal beoordeel, steeds beter. Groeikoerse styg en inflasiekoerse bly laag. Dit is veral in die VSA waar die jongste nuus bemoedigend is en waaroor inligting verstrek word. Kommer wat bestaan het oor ‘n wêreldwye tarief oorlog, is geleidelik besig om van minder belang te word. Duidelik het die VSA se beleidmakers dit teen Sjina se optredes waaroor ek inligting gee.

Plaaslik vertoon die ekonomie nie gunstig nie. Die Reserwebank het groeivooruitsigte afgeskaal met die vrees dat die inflasiekoers kan versnel en die lopende rekening tekort kan toeneem. Dit is ‘n lastige kombinasie van faktore om te bestuur. Dan is daar bykomende faktore met politieke ondertone wat ook nadelig op die ekonomie inwerk.

Die internasionale toneel

In hierdie oorsig konsentreer ek op die VSA wat die wêreld se grootste ekonomie is en ook die vernaamste dryfkrag vir ekonomiese vertonings internasionaal kan wees.

In kw2 vanjaar, het die groeikoers aansienlik versnel. Na ‘n styging van 2,2% in kw1, het dit in kw2, seisoenaal aangepas en teen ‘n jaarkoers uitgedruk, tot 4,1% verbeter. Dit is ‘n merkwaardige styging en een wat sy invloed internasionaal ook sal laat geld nieteenstaande die feit dat die VSA ekonomie grootliks ‘n geslote ekonomie is. Hiermee word bedoel dat in- en uitvoer as persentasie van die BBP nie so belangrik as byvoorbeeld in die RSA is nie.

Die versnelling in die groeikoers het wyd voorgekom. So byvoorbeeld het privaat verbruiksbesteding met 4% gestyg. Die ná-belaste inkome van indiwidue het egter met net 2,6% gestyg wat beteken dat daar deur indiwidue op besparing ingeteer is of dat meer skuld aangegaan is. Sommige waarnemers reken dan ook dat die tempo van besteding nie volhoubaar is nie. Tog is indiensname besig om te styg. Met feitlik volle indiensname wat voorkom, en met tekorte aan sekere tipes arbeid wat gerapporteer word, behoort salarisse te styg en privaat besteding steeds redelik stewig te bly. Wat wel kommer wek, is dat besteding op behuising die afgelope paar maande verlangsaam het nadat dit in die vorige jaar merkbaar toegeneem het. Dui dit op iets onderliggends wat verkeerd is, of is dit bloot weens die feit dat dit teen ‘n hoër basis gemeet word? Owerheidspandering het relatief min gestyg met net 2,1%.

Wat verder positief is, is die feit dat vaste investering deur sake ondernemings in kw2 verder met 7,3% toegeneem het. Dit volg op ‘n hersiene syfer van 11,5% in kw1. Dit beteken dat bykomende produksiekapasiteit tot stand kom wat ook kan bydra dat produktiwiteit daardeur bevoordeel kan word weens nuwe tegnologie.

Nog ‘n positiewe verwikkeling vir die VSA ekonomie is dat uitvoer merkbaar verbeter het en ‘n styging van 9,3% toon. Daarby het invoer stadiger toegeneem sodat netto uitvoer ‘n bydrae van 1,06% tot die BBP se styging van 4,1% gemaak het. Die groot handelstekort het gevolglik ook verklein.

Weens die skerp styging in besteding en investering, het voorraadvlakke in kw2 skerp gedaal wat tot ‘n negatiewe bydrae tot die groeikoers van 1% gelei het. Daar kan egter verwag word dat daar groter bestellings as gevolg hiervan sal wees wat produksie in kw3 kan bevoordeel. Die vermoë om hieraan te voldoen bestaan, gesien die styging in vaste investering. Invoer mag egter ook styg.

Wat sou mens nou, gegewe voorgaande verwikkelinge, van die VSA ekonomie verwag?

Dit moet in gedagte gehou word dat die beleid wat gevolg word, grootliks ten doel het om die produksiekant van die ekonomie te stimuleer. Die laer belastings aan maatskappye en indiwidue, die beleid om die land se infrastruktuur wat aansienlik verswak het, op te gradeer, en selfs die tariefbeskermingsmaatreëls gemik teen veral Sjina, is alles faktore wat hiertoe kan meewerk. Sommiges hiervan kan op die kort termyn voordele bring, soos die tariewe, maar wat wel op die langer termyn nadelig kan wees aangesien dit die inflasiekoers kan verhoog en teenmaatreëls tot gevolg kan hê. Maar daarby is die beleid daarop ook gemik om die staat se aandeel in die ekonomie, kapitaalbesteding uitgesluit, in te kort. Dit is positief. Wat verder gunstig is, is dat die tariefbeskermingsmaatreëls wat oorspronklik ook teen die Euro-gebied en ander lande gemik was, na onderhandelings deur die president van die Europese Kommissie, mnr Jean-Claude Juncker, nie meer toegepas gaan word nie. Inderwaarheid, daar is ooreengekom dat tariewe tussen die VSA en die Eurogebied as geheel geskrap behoort te word. Daar is ook onderhandelings aan die gang om die vrye handel tussen die NAFTO-lande, die VSA Kanada en Meksiko, te handhaaf. Maar mnr. Trump het duidelik sy mes in vir Sjina en bykomend vir lande wat deurgaans teen die VSA stem in die Veiligheidsraad, soos byvoorbeeld die RSA.

Wat is die probleem met die handel tussen die VSA en Sjina? Mnr. Larry Kudlow, mnr. Trump se hoof ekonomiese raadgewer het op sy webblad, (tik bloot in Larry Kudlow as u sy sienings wil bekom), dit duidelik gestel dat die reëls van die spel ten opsigte van handel met Sjina nie billik is nie. So byvoorbeeld word Sjina steeds beskou as ‘n ontwikkelende land wat aan hom sekere voordele in die internasionale handel besorg. Daar is ook ‘n probleem met inligting rakende produksie tegnieke wat onregmatig verkry word. So byvoorbeeld, as ‘n VSA maatskappy, of een van enige ander land, in Sjina wil investeer en produseer moet hy 51% belang aan die staat afstaan en alle inligting, (intellektuele kapitaal), oor die produksie tegniek aan die staat oordra. Dit word beskou as onregmatige verkryging van inligting wat teen die VSA aangewend word. Daar is ook sekere arbeidspraktyke wat vir die VSA nie aanvaarbaar is nie aangesien dit teen internasionale reëls indruis. Die VSA dring dus daarop aan dat sekere praktyke gestaak word en dat die speelveld t o v internasionale handel gelyk moet wees. Mnr. Kudlow sê dan ook dat pogings om die VSA ekonomie reg te ruk daarop gemik is om ‘n groeikoers, oor ‘n sakesiklus, van 4% te verkry waar dit tot onlangs toe nog slegs 2% was.

In die VSA self sou verwag kon word dat die inflasiekoers die een of ander tyd sal begin versnel. Tot dusver is dit teengewerk deur ‘n invloei van fondse na die VSA wat die VSA$ sterk hou, terwyl lone en salarisse nog relatief min gestyg het. Dan is daar ook heelwat onderbenutte produksiekapasiteit. Hiermee saam gesien styg produktiwiteit. Die vrese dat die inflasiekoers kan styg, het reeds tot rentekoersstyging aanleiding gegee. Verwagtings is dat rentekoerse verder sal styg veral omdat die tekort op die staatsfinansies groot is.  ‘n Reddingsboei in die verlede om hierdie tekort te finansier, deur staatseffekte vanaf die Fed aan te koop, is ook opgeskort. Die teendeel moet eerder te wagte wees aangesien die Fed aangedui het dat hy die balansstaat wil afbou – dus staatseffekte wil verkoop of nie nuwes gaan opneem nie.

Per saldo gesien behoort die invloed van die VSA se groeivertoning op ander lande se ekonomieë positief te wees. Voeg hierby die feit dat die Sjinese ekonomie steeds bly groei teen ‘n stewige 6% terwyl daar tekens is dat in die Eurosone en Japan daar ook verbetering te bespeur is. Gevolglik is vooruitsigte gunstig dat, ten minste vir vanjaar en volgende jaar, die internasionale ekonomiese omgewing ook vir die RSA ekonomie gunstig behoort te wees.

 

Plaaslike toestande

Dit gaan steeds nie goed met die RSA ekonomie nie. Wat veral kwel, is dat die leidende aanwyser van die sakesiklus, wat in die tydperk Julie 2016 tot Februarie 2018 met 10% verbeter het, sedert Februarie tot Mei vanjaar weer met 1,6% teruggesak het. Na die skerp insinking in die groeikoers in kw1, is die aanduidings dat kw2 steeds swak vertoon alhoewel daar ‘n klein positiewe groeikoers kan wees, gesien die lae basis van kw1 waarteen dit gemeet word asook die verbetering in die handelsbalans wat ingetree het.

Wat bykomend kommer wek, is die feit dat die Reserwebank die afgelope maand aangekondig het dat hulle die ekonomiese groeikoers vir vanjaar vanaf 1,7% soos voorheen voorsien, tot 1,2% verlaag het. Vir 2019 voorsien die bank ‘n beskeie groeikoers van 1,9% wat tot 2,0% in 2020 mag styg. Lees hiermee saam dat die kern inflasiekoers, dit wil sê die totale indeks minus voedsel en brandstof en energie pryse, van 4,5% in kw2 vanjaar tot ‘n geraamde 5,5% in 2019 en 5,3% in 2020 kan styg. Dit is ook hoër as wat voorheen voorsien was. Sou die vlaag stakings en looneise en elektrisiteitstariewe egter meer wees as wat aanvaar is, kan dit selfs hoër wees. Voorts word ook voorsien dat die tekort op die lopende rekening van die betalingbalans, van ‘n tekort gemeet relatief tot die BBP, van 2,5% in 2017 tot 3,9% vir vanjaar en prakties van dieselfde omvang vir die volgende twee jaar kan toeneem. Ook dit is hoër as voorheen voorsien.

Wat is die gevolge hiervan? Die reële BBP per hoof van die bevolking gaan vanjaar verder daal. Dit sal die vierde jaar van afname wees. Hiermee saam kan kwalik gesien word dat die indiensname syfer kan styg. Die werkloosheidsyfer het in kw2 inderdaad toegeneem. Hoe groter werkloosheid word, hoe groter word die gaping in inkomste oftewel die gini-koëffisiënt. Die laer as voorsiene groeikoers kan ook daartoe lei dat die staat se inkomste laer gaan wees as voorsien. Dit mag daartoe lei dat die tekort op die staat se rekeninge groter gaan wees, veral ook gesien die feit dat hoër lone toegestaan is, as waarvoor begroot is. Staatsuitgawes kan  ingekort word, maar dit sal waarskynlik op kapitaalwerke wees. Dit weer verlaag die potensiële groeikoers. Daar is ook die gevaar dat die land se spaarsyfer verder kan daal nadat dit in kw1 reeds merkbaar verswak het. Nodeloos om daarop te wys dat die land se wisselkoers onder druk kan kom. Al hierdie faktore kan die land se internasionale kredietwaardigheid skaad. Die Reserwebank self het laat deurskemer dat verdere rentekoersstygings, veral as internasionale koerse sou styg, nie uitgesluit kan word nie. Maatskappy winste kan swak vertoon weens voorgaande faktore en dit is dus nie verbasend dat beurspryse op die plaaslike mark swak vertoon met die rand verskanste aandele wat effens beter vaar.

Wat ons tans plaaslik ervaar, staan in skrille kontras met wat in die VSA gebeur. In die VSA word ‘n pro-groeibeleid gevolg teenoor ‘n sosialistiese beleid in die RSA, geskoei op die bevordering van besteding via herverdeling. Laat ek dit duidelik stel: ek het nog geen indiwidu, maatskappy of land gesien wat hom uit sy ekonomiese probleme kan spandeer nie. Veral nie as geleende fondse ondoelmatig aangewend word, soos die owerheid wat spaarfondse gebruik om lopende spandering te help finansier. Groter tekorte op die staat se finansies kan tydelik op sekere stadia van die sakesiklus aanvaar word. By ons duur dit eenvoudig nou reeds té lank. Produktiwiteit, wat myns insiens die sleutel tot verhoogde welvaart is, vertoon ook steeds nie na wense nie met eenheidsarbeidskoste wat vinniger as die inflasiekoers styg. Uiteindelik gaan dit gaan maar net tot ‘n verdere verswakking van die wisselkoers, hoër inflasie en dalende lewenstandaarde lei.

Hierby moet nou gevoeg word maatreëls om bates te onteien sonder vergoeding, asook ‘n gesondheidsbeleid waarvoor ‘n ryk land soos die VSA nie eers kans gesien het nie. Verder is daar ook die beoogde mynbou handves wat alles maar net ‘n deel van die sosialistiese beleid is. Ook wil sekere groepe die Reserwebank nasionaliseer, met baie duidelik die onderliggende motief om ruimer en goedkoper geldtoestande te bewerkstellig. Die nasionalisering van privaat banke, is ook nog in sekere politici se visier.

Wat die grondonteiening aangaan, is dit duidelik ‘n politieke spel wat gespeel word. Die probleem is dat dit weer eens verwagtings van welvaart skep maar dat dit die ekonomie groot skade kan berokken. Hoog op die agenda is voedselproduksie. Selfs met die huidige grondbeleid, is daar slegs enkele gevalle waar dit as ‘n sukses beskou kan word. Dit is nie elke persoon wat in ‘n sekere bedryf suksesvol gaan wees nie. Opleiding, kundigheid en ervaring speel in elke bedryf ‘n belangrike rol. Sou die beleid lei tot dalende landbouproduksie, gaan dit die land duur te staan kom. Daar is al in die geskiedenis verskeie pogings aangewend om die landbou te herstruktureer met politieke doelwitte as rede daarvoor.  Byvoorbeeld, in Sjina is in 1958 die sogenaamde “Great Sparrow Campaign” geloods waar kundige en ervare boere se privaat besit na kollektiewe plase omgeskakel is. Daar is selfs sover gegaan as om die verbouing van sekere tipe produkte te verbied. Die gevolge was katastrofaal. Volgens amptelike bronne het 14 miljoen Sjinese van honger omgekom. Nie-amptelike bronne stel die sterftesyfer op tussen 20 en 40 miljoen. Dié beleid is toe in 1978 laat vaar. Maar die gebeure in Zimbabwe, behoort ook ‘n les te wees oor wat kan gebeur. Daar is die beleid nou verander. Ongelukkig wil dit voorkom asof ons regeerders nie iets uit beide hierdie gevalle, en andere, geleer het nie.

Sou landbougrond gekonfiskeer word sonder vergoeding en aan andere oorgedra word, sal ervare boere se kundigheid verlore gaan en sal hulle boonop in armoede gedompel word. Landbouskuld sal nie afgelos kan word nie, wat beteken dat die gevaar bestaan dat banke nie lenings vir enige doel kan toestaan nie, of dit streng sal moet inkort, gesien die reëls wat van krag is om krediet te verleen. Vertroue in die bankstelsel kan in gedrang kom met deposito’s wat onttrek kan word wat banke kan laat bankrot speel. Uitvoerverdienstes kan daal en invoer van landbouprodukte kan styg. Die wisselkoers kan daal. Die inflasiekoers kan die hoogte inskiet. Die gevolge is ernstig. Selfs die IMF het hierteen gewaarsku.

Wat die gesondheidsplan betref, het mens simpatie met die probleem maar die antwoord is nie maklik nie. Uiteraard is goeie mediese behandeling dwarsoor die wêreld duur. Die opleiding van dokters en spesialiste duur lank en is duur en toerusting benodig wat meestal ingevoer moet word, is ook duur. Wat mens wel vind, is dat daar ‘n positiewe verband bestaan tussen welvaart en die lewering van diè tipe dienste. So byvoorbeeld, is daar in die VSA ongeveer 2 000 mense per tandarts, in die RSA ongeveer 10 000 en in Mosambiek 150 000. Volgens inligting het ons reeds 9 000 geneeshere verloor. Dit kan verder styg. Die beleid behoort dus te wees om ekonomiese groei te bevorder sodat lewenstandaarde kan styg. Dit sal dit vir meer mense moontlik maak om beter mediese dienste te bekostig. Op die wyse kan belastingontvangste verhoog wat nodig is om behoeftiges by te staan.  Helaas, hiervan sien ek nog niks. Inderwaarheid, beleidsoptredes neig toenemend na meer sosialisme. Dit bring net rampspoed.