DRK president nie weer beskikbaar

Na bykans twee dekades van heerskappy het die Kongolese president aangekondig dat hy nie weer verkiesbaar is in die komende presidentsverkiesing nie en wil uittree as staatshoof, maar kenners is van mening dat dit slegs ’n strategiese skuif is om die regerende party aan bewind te hou.

Die woordvoerder van die regering, Lambert Mende, het aangekondig dat die Demokratiese Republiek van die Kongo se president Joseph Kabila nie as kandidaat in die verkiesing sal staan nie.

Onbevestigde berigte lui dat die president se grootste lojalis, die Minister van Binnelandse Sake, Emmanuel Ramazani Shadary, vir die verkiesing op 23 Desember sal staan as presidentskandidaat.

Waarnemers sê dit kan ’n besondere verandering in die DRK teweegbring na die heerskappy van Kabila sedert 2001 toe hy op omstrede wyse verkies is.

Tallle ondersteuners van Kabila het glo gevra dat hy die tuig moet neerlê om te voldoen aan internasionale standaarde deur nie te veel termyne te probeer regeer nie.

Foto – Emmanuel Ramazani Shadary