Thailand seuns steeds in grot

Reddingspanne het Sondagoggend om 10 uur begin om die sokkerspelers en hulle afrigter uit die grot te kry nadat berigte van swaar reën hulle gedwing het om vinniger te werk.

Die seuns is elkeen met twee professionele duikers vergesel om te verseker dat hulle veilig uitgelei word na buite waar ambulanse gewag het om die seuns een vir een na ’n hospitaal te neem waar hulle ondersoek word.

Laat Sondag was 4 seuns veilig uit die grot begelei en vir waarneming na ’n hospitaal geneem waarna hulle ontslaan sal word om by hulle ouers aan te sluit.

Met die vrees dat reën die watervlakke in die grot verder kan verhoog, is nuwe planne beraam om die seuns so gou moontlik na buite te kry.

Die reddingspan het die 12 kinders en hulle afrigter Dinsdag gevind waarna kos, energie drankies, klere en ander benodighede aan hulle voorsien is.

Die kinders is reeds twee weke in die grot vasgekeer deur diep waters, en die feit dat baie van hulle nie kan swem nie, bemoeilik die reddingswerk.

Na raming is 130 miljoen liters water uitgepomp uit die grot om die reddingsdaad te vergemaklik, maar vrese het ontstaan dat die swaar reën al die werk om water uit te pomp, ongedaan kan maak.

Een van die reddingswerkers het omgekom nadat sy suurstof apparaat onklaar geraak het, wat die vraag laat ontstaan of die toerusting wat gebruik word in goeie werkende toestand is om die kinders veilig na buite te bring.

Intussen het die Suid-Afrikaans gebore tegnoloog en miljardêr, Elon Musk ’n paar van sy beste ingenieurs gestuur om behulpsaam te wees aangesien die tyd uitgeloop het en die groot reënstorms begin het in die land.

Die seuns is deur FIFA uitgenooi om kosteloos na Rusland te gaan om die eindstryd van die sokker by te woon, en uitsoek sitplekke sal aan die seuns en hulle afrigter voorsien word.