Spanje verloor weereens teen Puigdemont

Spanje se hooggeregshof het sy bevel teruggetrek waarin Europese lande die voormalige president van die deelstaat Katalonië, Carles Puigdemont, sou moes uitlewer aan Spanje weens sy optrede wat as ’n rebellie beskou is.

Dit kom nadat die hooggeregshof in Duitsland, waar Puigdemont verhoor is, bevind het dat hy nie weens ’n rebellie uitgelewer kan word nie, maar hoogstens weens die wangebruik van staatsfondse vir die referendum wat gehou is oor onafhanklikheid.

Deskundiges wys daarop dat die optrede van die hooggeregshof weereens daarop dui dat Puigdemont nog ’n oorwinning behaal het oor die regering van Spanje.

Die Spaanse regter, Pablo Llarena, het verlede week bevind dat die hof hoogstens kan handel oor die wanaanwending van fondse deur Carles Puigdemont.

Nou blyk dit dat Puigdemont hoogstens vervolg kan word vir die wanaanwending van fondse, en dat die ses separatiste wat reeds ’n jaar lank in die gevangenis aangehou word, wederregtelik aangekla is vir iets waaraan hulle nie skuldig is nie maar wel deur die hof skuldig bevind is.

Die aangehoudenes, sowel as Puigdemont, kan dus hoogstens vir 12 jaar tronkstraf opgelê word vir die misbruik van staatsfondse, en nie 30 jaar soos wat beoog was omdat hulle ’n rebellie gevoer het nie.

Die Spaanse onttrekking van die uitleweringsbevel dui op die swakheid van hulle saak teen Puigdemont, maar het eers werklikheid geword toe die Duitse hof beslis het dat hy nie ’n rebellie aangevoer het nie.

Dit is egter onduidelik of Puigdemont sal kan terugkeer na Katalonië sonder om deur die Spaanse owerheid in hegtenis geneem te word.

Foto – Carles Puigdemont