Slaggate kry struggle-name

Die LUR vir vervoer in Gauteng, mnr. Ismail Vadi, het aangekondig dat hy die Suid-Afrikaanse geografiese plekname komitee versoek het om ‘n openbare deelnameproses aan die gang te sit om name van roetes in die provinsie, wat dui op die apartheidsera, te laat herdoop na sogenaamde “struggle-helde” wat reeds afgesterf het.

Die VF Plus sê hierdie voorstel is lagwekkend aangesien daar nie eers behoorlik fondse is om paaie en brûe in die provinsie te herstel, nuwe paaie en brûe te bou of om sinkgate op provinsiale roetes te herstel nie.

Die provinsiale paaie wat Vadi nou wil laat herdoop, is die N14, R23, R28, R55, R59, R80 en die nuwe PWV 15, wat nog nie gebou is nie.

Die VF Plus sê dat Vadi skaars vyf minute na hierdie aankondiging in dieselfde toespraak genoem het dat sinkgate op die provinsie se paaie die departement se begroting onder groot druk plaas en dat om ‘n sinkgat, soos die een in die R55 in Laudium te herstel, die departement R40 miljoen op ‘n slag uit die sak jaag.

Vir die VF Plus is die aankondiging en uitsprake uiters verwarrend. Aan die een kant wil die LUR roetes in Gauteng herdoop wat die departement miljarde rande uit die sak gaan jaag, maar in dieselfde asem kondig hy aan dat daar nie geld is om sinkgate te herstel nie.

Die VF Plus voel dat die LUR besig is om ‘n sinnelose en wanhopige politieke veldtog vir die ANC deur sy departement te voer en ook soos die premier alles in die stryd sal werp om nie die 2019-verkiesing te verloor nie en dit ten koste van die provinsie se vooruitgang en instandhouding. Daarom dat sinnelose projekte van stapel gestuur word om paaie se roete-nommers te herdoop na afgestorwe ANC-“struggle” helde.

Die paaie in Gauteng verkeer tans onder baie erge druk en die bestaande ou infrastruktuur kan nie meer die swaar druk van verkeer hanteer nie.

Nuwe hoofweë, paaie en brûe moet gebou word, sinkgate moet herstel word en bestaande ou infrastruktuur moet dringend opgeknap word. Instede daarvan beplan ‘n onkundige LUR om eerder name te verander, sê VF Plus.