Sjina red Venezuela olienywerheid

Die oliebedryf in Venezuela word van totale ineenstorting gered deur Sjina wat onderneem het om ’n finansiële inspuiting te gee om daarmee sy greep op die sukkelende land te verstewig.

Die staatsbeheerde oliemaatskappy, PDVSA, wat reeds geruime tyd sukkel om staande te bly weens die swak finansiële posisie van Venezuela, sal nou weer kan funksioneer, maar waarskynlik nie sonder die Sjinese se insette in die bestuur nie.

Die bedrag van $250 miljoen word deur die Sjinese Ontwikkelingsbank voorsien om die produksie van olie te verhoog en daarmee te poog om die nywerheid van ondergang te red.

Die hulp is verkry nadat samesprekings gevoer is tussen die minister van finansies, Simon Zerpa, en leiers van die Sjinese bankiers.

Benewens die hulp het die Sjinese regering ook ’n bedrag van $5 miljard goedgekeur as lening aan die olieprodusent wat dan ook dien as ’n Sjinese belegging.

Vroeër het die Sjinese regering ook $5 miljard beskikbaar gestel en het daarmee ’n stewige greep op die land se oliebedryf.