Sjina: Komende handelsoorlog grootste ooit

Gesaghebbendes in Sjina het gewaarsku dat die komende handelsoorlog die grootste is wat ooit in die geskiedenis opgeteken is.

Die Sjinese woordvoerder het die Verenigde State se tariewe veroordeel en gesê dit kan lei tot die grootste handelsoorlog in die geskiedenis van die mens.

Beijing beplan om die moontlikheid van ’n grootskaalse handelsoorlog na die Wêreld Handel Organisasie te neem om moontlike optrede te bespreek.

Sjina beweer dat die optrede van die Trump-administrasie die kommunistiese staat gedwing het om teenmaatreëls in te stel, maar dit lei tot ’n groter wordende oorlog.

Sjina het tariewe ingestel teen die VSA nadat Amerika se aangekondigde tariewe Vrydag in werking gekom het en grootskaalse styging in pryse sal beteken.

Die Sjinese minister van handel sê die optrede van president Trump is ’n verbreking van die internasionale handelsreëls, maar die VSA het geen reaksie daarop gehad nie.

Vroeër het president Donald Trump gesê hy sien uit na so ’n handelsoorlog, want Amerika sal die oorlog maklik wen.