Ramaphosa gaan kruip voor Zoeloekoning

Cyril Ramaphosa het persoonlik besoek gaan aflê by Goodwill Zwelithini om hom te verseker dat die ANC nie die tradisionele leiers se grond sal vat nie.

Hy het by ‘n byeenkoms in Natal die teenwoordiges verseker dat hy ‘n goeie verhouding het met Jacob Zuma asook met Dlamini-Zuma.

Dit bevestig maar net dat Ramaphosa, terwyl hy tweede in bevel was onder Zuma, moes geweet het van al die onderduimse transaksies wat die land in bankrotskap gedompel het.

Dit val vreemd op die oor dat die kommunis kader Carl Niehaus oor die kole gehaal is na hy verskoning aangeteken het by die koning oor die grondkwessie maar twee dae later hardloop Ramaphosa self na Zwelithini om hom te verseker dat hul nie sy “stukkie” grond sat steel nie.

VF Plus se leier, dr. Pieter Groenewald, sê Ramaphosa se onderneming dat die Ingonyama-trustgronde nie beskou word as deel van die proses van onteiening sonder vergoeding nie, skep gevaarlike dubbele standaarde oor die aangeleentheid.

“Dr. Zweli Mkhize, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, se uitsprake dat swart mense en tradisionele leiers uitgesluit is van die beoogde proses van onteiening sonder vergoeding, wys die ware kleure van die ANC dat onteiening sonder vergoeding eintlik gemik is teen wit mense.  Hierdie stellings openbaar die ANC se voorheen verskuilde agenda om net sekere eiendom op ‘n selektiewe grondslag te teiken,” sê dr. Groenewald.

“Nou is dit duidelik dat wit mense se eiendom geteiken word. Dit is onbillik, onregverdig en totaal onaanvaarbaar. Die oplossing is eenvoudig, en dit is dat die ANC die hele proses van onteiening sonder vergoeding moet laat vaar.

“Dit word nou ook duidelik dat die ANC die onteieningskwessie gebruik as politieke propaganda vir die komende algemene verkiesing aangesien hy beloftes van vrywaring maak teenoor moontlike ondersteuners en kiesers.

“Onteiening sonder vergoeding kan nie selektief toegepas word soos dit die regering van die dag behaag nie. Dit sal ‘n Zimbabwe-situasie skep waar wit boere geteiken is en hul  grond aan lojale kaders van oud-pres. Robert Mugabe uitgedeel is,” sê dr. Groenewald.

Foto: Goodwill Zwelithini en Cyril Ramaphosa