Ramaphosa bollemakiesie oor lewenskoste

Na sy bravade en aanstelling van 5 ministers om ‘n oplossing te vind vir die hoë lewenskoste,  veral die brandstof prys en BTW, het Cyril Ramaphosa nou skielik terug gekrabbel en gesê dat die mense nie ‘n vinnige oplossing vir die probleem moet verwag nie.

Sy ministers is twee weke tyd gegun om met ‘n plan na vore te kom met maatreëls om die hoë brandstof prys en BTW se las te verlig.

Politieke ontleders is nie verbaas daaroor dat beloftes maklik gemaak word en kort daarna net so maklik verbreek word. Hulle wys daarop dat dit daartoe lei dat mense die reg in eie hande neem en brand en klippe gooi.

Inmiddels is daar ‘n wydlopende debat oor Ramaphosa se prestasies as president. Hy het in ‘n onderhoud erken dat hy dalk as ‘n swak president gesien word omdat hy nie vinnig optree nie, maar hy sê sy vernaamste werk is om sy party, die ANC, te verenig.

Ontleders wys daarop dat hy sy party wil red al kos dit die land wat ook al. Kritiek is oor ‘n wye front teenoor Ramaphosa aan die oplaai, en hy is met ‘n politieke oorlewingsdans besig.

Die enigste wat hom nog probeer verdedig, is die verlinkse joernalis, Max du Preez, wat sê dat Ramaphosa se sogenaamde vrugte van nuwe leierskap nie oornag ryp sal wees nie.