Prikkel: Volksbestaan

Kan ek my vir volksbestaan op die Woord beroep?  Die begrip “in hulle geslagte” kom menigvuldig in die Woord voor;  daar is letterlik honderde inskrywings van die woordjie “volk”.

Wat sê dit?

Geslagte ontstaan uit huweliksluiting, gesinne, families, volk.  Dit is die opbouproses van ‘n volk.  Die primêre kragte waardeur die geslagte en dus die volk, in stand gehou word, wortel in die voortplantingsvermoë en die beheersingsopdrag aan die mens (Gen. 1:28) en waarvoor die mens besondere vermoëns ontvang het.  Sy optrede word gerig deur etiese norme en waardes waarvolgens hy optree.  Met sy arbeid omskep hy sy leefwêreld;  uit sy spraakvermoë vorm sy taal;  daarmee gee hy uitdrukking aan sy volksnorme en waardes, pas hy sy etiese reëls toe en voed hy sy kinders as volgende geslag op.  En in alles word hy gerig binne volksverband.  Want dit gebeur kragtens die wil van God dat volke weens getalle en/of belange van mekaar afskei.  So het ons volk aanvanklik van Nederlanders afgeskei.  Afstand plus vermeniging met Duitse en Franse groepe het ons tot ‘n afsonderlike eie Afrikanervolk met ons eie taal, kultuur en waardes, gelei.

‘n Volk kan dus (kort gesê) beskou word as ‘n groep mense met ‘n eie kultuur, eie taal, eie woonwêreld en ‘n historiese lotsgebondenheid waarin hulle afkoms, in hulle geslagte, erken word.  Dit is o.a. wat Deut. 32:8 en Hand. 17:26 sê.  Wesenlik druk dit die verskeidenheid van volke in die eenheid van die mensdom uit.  So het die Here dit in sy voorsienigheid laat groei.

Hendrik v.d. Wateren