Prikkel: Geloof

Durf ons as volk ons taal en kultuur handhaaf?  In vorige prikkel is herhaaldelik daarop gewys dat handhawing inderdaad ons volksroeping is omdat volksbestaan, volkstaal, volkskultuur genadegawes van God is.  Dit gaan dus eerstens om geloof en geloofsdankbaarheid.

Nou is daar mense wat geloof en lewe wil skei.  Geloof is kerksake – vir diegene wat nog kerk toe gaan.  Die lewe is die werklikheid van elke dag.  Daar moet ‘n mens versigtig wees om nie aanstoot te gee nie.  Die regte manier is om “polities korrek” op te tree.  En hulle is so polities korrek, so bang om aanstoot te gee aan die regering van die dag dat volksbestaan, kultuurhandhawing en volkstaal maar liefs opgeoffer moet word.  En daarmee versaak hulle ook hulle geloof.  Want wie die genadegawes verag, verag ook die Gewer, die Here in die hemel.

Hierdie mense, wat wel beweer dat hulle van ons volk is, wat wel Afrikaans praat – mits dit nie aanstoot gee nie – word aan die neus gelei deur die sg. meningsvormers.  Hulle wat sê dat ons agteroor moet buig in die hoop dat as jy ver genoeg buig, sal die ander, die opponent jou wel staande hou.  En as hy daarmee ook sy geloof versaak?  Nou ja…

Laat maar loop het nog nooit ‘n oplossing gebied nie.  Hierdie mense toon geen begrip meer vir roeping nie.  Hulle loop selfs gevaar om die Woord van God en dus die God van die Woord eenkant toe te stoot.  Maar hulle besef nie die ontsettende waarheid nie.  “Die dwaas sê in sy hart;  daar is geen God nie” (Ps. 14:1).  Die keuse is eintlik eenvoudig:  roeping tot handhawing of dwaasheid.

Hendrik v.d. Wateren