Oom Paul se graf geskend

As julle werklik julle skok hieroor wil uitspreek, dan wil ek my skok uitspreek oor my volksgenote wat nooit Oom Paul se 10 Oktober gedenkdienste by die graf en in die Paul Kruger Kerk bywoon nie.

Ook nog nooit die Majubafees besoek het op die laaste naweek in Februarie nie.

Ook nie hul Geloftes betaal of hul Konsentrasiekampdag op 16 Junie te Irene begraafplaas gaan besoek het nie.

Wat Paardekraal nie ken nie. My volksgenote wat nie weet van die museum op Vegkop nie. Wat nog nooit die Oorlogsmuseum of die Vrouemonument besoek het nie. Ja, julle wat julleself uiters verlig of liberaal beskou maar nie weet dat Eugene Marais se graf 10 meter weg is van Oom Paul se graf nie. Wat nog nooit jou kinders vertel het van Jopie Fourie nie en nog nooit ‘n ruiker op sy graf gaan lê het nie.

Daar is hoop vir jou en dis nooit te laat nie. Kom kuier vir Oom Dawid Grobbelaar by Kragdag se lewendige Ossewa Museum en beleef jou herkoms. Vertel jou kinders en kleinkinders van Danie Theron, wie se vryheidsvlam monument op pad van Johannesburg na Potchefstroom toe staan.

Ja jy, Afrikaner, Boer, Suid Afrikaner, wat nou net kla oor ‘n beeld en ‘n grafsteen: was jy al in die laer op Bloedrivier?

Bring jou kant en gaan lees op en vertel ons verhale vir jou kinders.

Hannes Scholtz

Voorsitter: Majuba Boerevolktrust