Motorrubriek – Volkswagen Arteon 2.0 TSI R-Line

In die motorkringe waar Volkswagen beweeg is die kompetisie straf en is dit nodig dat daar van tyd tot tyd ‘n nuwe produk bekend gestel moet word. Die Arteon is bedoel om te kompeteer met die luukse mark in gedagte.

Wanneer na die sierlike buitelyne gekyk word en die afwerking wat van hoogstaande gehalte is, dan bestaan daar geen twyfel dat dit soos met ander Volkswagen produkte, dit inderdaad ‘n sukses gaan wees. Dit is ‘n sedan maar dit is ook ‘n koepee. Dit is die stalmaat vir die Passat en is in die prysklas waar Bestuurders en Direkteure van maatskappye, hulle voertuie aankoop.

Aan die binnekant is die afwerking van hoogstaande aard en is voorsiening gemaak vir alle toerusting en nog meer . Dit sluit in ‘n nege duim aanraakskerm, wat maklik leesbaar is – selfs al skyn die son daarop, radio, lugversorger, snelheidsbeheerder, Nappa leer bekleedsel vir die sitplekke, die R kenteken op die ruglening, meer as genoeg beenspasie vir die agterste passasiers en alhoewel die indruk geskep word dat die kopspasie beperk is, is dit nie die geval nie en die voorste sitplekke het genoegsame verstel posisies om “sitkamer” gerief moontlik te maak. Duidelik leesbare instrumente is regvoor die bestuurder gemonteer en die plat onderste gedeelte van die stuurwiel sorg dat daar met gemak in die voertuig ingeklim kan word.

Aan die voorkant sorg die embleem op die sierrooster dat daar geen twyfel bestaan dat dit ‘n Volkswagen is nie en die LED hoofligte tesame met die R teken en die groot luginlate aan die buite hoeke van die voorste stamper, rond die prentjie ewe netjies af.

Die LED agterligte is om die hoeke gevorm en die ingeboude drukvlerk wat deel vorm van die kattebak deksel, sorg dat die motor duidelik sigbaar is van die kant en agterkant. Die kattebak se laairuimte is ruim en ‘n goeie hoeveelheid bagasie kan ingeneem word.

‘n 2.0 liter, vier silinder, turbopetrol kragbron wat 206 kW krag en 350 Nm wringkrag voorsien sorg dat die voertuig met gemak sy werk kan doen. Volgens ingeligte bronne is die brandstof verbruik, 7,3 l/100 km. Na verneem word kan dit van 0 tot 100km/u versnel in 5,6 sekondes met ‘n topsnelheid van 250 km/u. Dit is inderdaad genoegsaam om nie terug te staan vir blitsbukse nie. ‘n Sewe spoed ratkas sorg dat die krag na al vier wiele versprei word en op die ooppad kom dit eintlik tot sy reg.

Hierdie 2,0 liter,TSI, R-Line, Arteon kom eintlik werklik tot sy reg op die lang pad en kan dan daar, soos in die stad of dorp werklik geniet en waardeer word.

Indien u in die mark is vir hierdie vlak motor, kan u gerus u naaste Volkswagen handelaar besoek en dit vir ‘n toetsrit neem en u sal nie teleurgesteld wees nie.