EFF spog met 1 stem

In ‘n munisipale tussenverkiesing het die radikale EFF slegs 1 stem gekry.

Die verkiesing was egter gekenmerk deur een van die laagste stempersentasies wat nog gerapporteer is. Nog geen 10% van die geregistreerde kiesers het moeite gaan doen om na die stembus te gaan nie.

Uit die 453 geregistreerde kiesers, het slegs 45 by die stembus opgedaag. Daarvan het die ANC 24 stemme gekry, die DA 17, Cope 3 en EFF 1. Die ANC het die setel nou oorgeneem by die DA. Ten spyte dat die ANC nou die setel het, verteenwoordig hy net meer as 5% van die kiesers, wat beteken dat 94% van die kiesers nie die ANC ondersteun nie, en dit weer eens vrae oor die sogenaamde demokratiese stelsel laat ontstaan.

Voor die verkiesing, en na die bedanking van die DA-raadslid, wat na die kus verhuis het, was daar ernstige verdeeldheid binne die DA wat baie kiesers laat besluit het om nie weer die party te ondersteun nie.

Nie net die blanke kiesers het nie by die stembus opgedaag nie, maar ook swart kiesers het in groot getalle nie gaan stem nie.

Voor die verkiesing het die EFF ook probeer om ‘n vergadering met die Waterberg DLU van TLU SA te belê, want hulle wou werwing onder plaaswerkers doen. TLU SA het laat weet dat hy ‘n vergadering slegs sou oorweeg indien die EFF sou erken dat die boere die wettige grondeienaars is. Daarop het die EFF gedreig om TLU SA by die Onafhanklike Verkiesing Kommissie (OVK) te rapporteer. Dit het TLU SA nie in die minste beïndruk nie, en het die EFF laat weet dat hulle nie in ‘n vergadering met hulle belangstel nie, en dat die EFF geen hulp van TLU SA moet verwag nie solank hulle die boere as diewe beskou wat doodgemaak moet word.