Duitsers ontevrede met Merkel beleid

Die gewildheid van die Duitse koalisieregering, en in besonder die kanselier, Angela Merkel, het ’n laagtepunt bereik weens die verwronge beleid oor immigrasie.

Dit is nie net die nasionalistiese kiesers nie, maar ook die ondersteuners van kanselier Merkel se Christen Demokratiese Unie (CDU) wat nou sterk beswaar maak teen haar voortgesette houding terwyl Europa in verset is teen onwettige immigrante.

Ernstige weerstand bou op teen Merkel se linkse optrede om die sosialiste terwille te wees in die hoop dat sy as kanselier aanbly, maar die jongste peiling toon dat slegs een uit elke vyf kiesers nog tevrede is met haar immigrasiebeleid.

Kiesers is glo van mening dat Merkel die Duitse volk uitmekaar ruk met haar neiging om onwettige immigrante uit Afrika lande toe te laat, in stede daarvan om meganismes in werking te stel wat die toelating verbied.

Volgens die peiling is 80% van die kiesers geheel en al gekant teen die koalisieregering se immigrasiebeleid, terwyl slegs 20% nog tevrede is met die regering.

Die opname wat gemaak is deur die ARD radiostasie, kom slegs enkele dae nadat die regering van Merkel byna uitmekaar gespat het toe haar konserwatiewe minister van binnelandse sake aangekondig het dat hy sal bedank as hy nie sy sin kry oor die hantering van immigrante en strenger grensbeheer nie.

Foto – Kanselier Merkel