Venezuela vervang sy visepresident

President Nicolas Maduro het die visepresident afgedank en vervang met ’n vrou as sy tweede in bevel, slegs een maand nadat hy ’n nuwe regering saamgestel het.

Die nuwe viseprsident, Delcy Rodriguez, is klaarblyklik een van sy vertrouelinge wat oor ’n lang tyd haar ondersteuning aan die president gegee het.

Maduro sê die groot oorwinning wat hy behaal het in die afgelope verkiesing van 20 Mei het bewys gelewer dat daar vertroue in sy regering is.

Die president se herverkiesing is met groot agterdog bejeën deur wêreldleiers en bewerings van ’n grootskaalse gekonkel word deur opposisielede gemaak.

Maduro het probeer om groter steun te kry deur meer as ’n 100 mense uit tronke vry te laat, maar dit het die agterdog glo net laat toeneem dat die verkiesing nie vry en regverdig was nie.

Venezuela is tegnies bankrot, en winkelrakke is feitlik dolleeg wat inwoners dwing om te stap na die winkels in ’n Columbiaanse stad naby die grens om hulle lewensmiddele en medikasie te bekom.

Foto – President Maduro en nuwe adjunk (L)