Vaaldriehoek munisipaliteit onder administrasie

David Makhura , Gauteng premier, het aangekondig dat die Emfuleni Munisipaliteit onder administrasie geplaas is.

Die provinsiale regering gaan glo toesien dat die minimum standaard van dienslewering sal plaasvind en ‘n finansiële herstelprogram daargestel sal word.

Eskom en Rand Water het gedreig om dienste te staak terwyl vullisverwydering lukraak plaasvind.

Die Vaaldriehoek – eens die vooruitstrewende gebied aan die Rand – is na 25 jaar se ANC/DA  beheer ‘n vullishoop wat nie skuld kan invorder en vir dienste betaal nie, daar word gevra waar die geld heen is en of dit ook gesteel is?

Die VF Plus het David Makhura se aankondiging verwelkom dat die provinsiale regering by Emfuleni-munisipaliteit (Evaton, Sebokeng, Vaal Oewer, Vanderbijlpark, Vereeniging) gaan ingryp deur Artikel 139 van die Grondwet toe te pas. Artikel 139 stel dit duidelik dat, indien ‘n munisipaliteit nie meer in staat is om sy finansiële verpligtinge na te kom nie, die provinsiale regering moet intree om te sorg dat hierdie verpligtinge nagekom word.

Die VF Plus het reeds op 12 April 2018 versoek dat die premier by die Emfuleni-krisis moet ingryp nadat dit toe reeds duidelik was dat Emfuleni diep in die moeilikheid is en dat sake besig was om handuit te ruk. Op daardie stadium kon Emfuleni nie sy agterstallige rekening van R419 miljoen by Randwater betaal nie en Eskom het ook begin grom oor agterstallige bedrae van ongeveer R170 miljoen.