Spaanse regering reik uit na Katalonië

Dit is nie onverwags dat die nuwe regering in Spanje probeer om die verhouding met Katalonië te herstel nie, want die deelstaat se verteenwoordigers in die federale parlement het teen die voormalige premier gestem in ’n mosie van wantroue.

Die sosialistiese regering wat tans in Madrid die septer swaai, het egter besluit om die finansiële beheer weer terug te besorg aan Katalonië, nadat die vorige regering beheer oorgeneem wat die separatiste woedend gelaat het.

Bankiers het opdrag gekry om die Kataloniese regering weer soos in die verlede, beheer te gee oor die finansies van die deelstaat en betalings te maak soos voorheen.

Die Spaanse eerste minister, Pedro Sanchez, het onlangs die nuwe regering saamgestel nadat die vorige premier, Mariano Rajoy, bedank het weens ’n korrupsie skandaal in sy konserwatiewe politieke party, en ’n mosie van wantroue gekry het wat sy finale nekslag was.

Die Kataloniërs en Baskiese verteenwoordigers in die federale parlement het onomwonde gesê hulle sal teen Rajoy stem weens die optrede vroeër teen die separatiste in die deelstaat.

Die nuwe regering is egter nie bereid om in te stem tot ’n opvolg referendum oor onafhanklikheid in die deelstaat nie, en het gesê Katalonië is deel van Spanje en dit gaan so bly.