Motorrubriek – Renault Clio RS 18 F1

Wanneer die Renault Clio RS onder oë geneem word en ons ouer garde dink terug aan die 60 jare, dan kan ‘n mens nie anders as om aan die Cordini te dink nie. Dit was inderdaad ‘n motor van formaat en die manne en dames met “petrol in hulle are”, kon dit waardeer en geniet.

Die RS verteenwoordig 50 jaar van Renault motorsport en wanneer daar na die werkverrigting gekyk word, dan besef ‘n mens dit is ‘n motor wat geniet kan word- nie net as ‘n blitsbuks nie maar ook as ‘n motor vir normale daaglikse gebruik. Moeder kan dit selfs gebruik om die kinders mee skool toe te vervoer.

Dit is slegs besikbaar in swart glans afwerking en verder word dit onderskei met dun, helder geelstrepe op stategiese plekke aan die sykante en voor om die kolligte en ook die RS 18 embleem op die kante. Die RS teken verskyn op die sierrooster onder die bekende diamand kenteken van Renault.

Hierdie uitsonderlike motor benodig ‘n spesiale kragbron en daarvoor het Renault se ingenieurs gesorg. Die M5M 1618 kub. sentimeter, dubbel oorhoofse nokas, 16 klep, vier silinder, turbo aangejaagde petrol enjin doen sy werk met gemak. Dit is instaat om die motor van 0 tot 100 km/u te laat versnel in 6,6 sekondes met ‘n maksimum snelheid van 235 km/u. Dit is moontlik gemaak deur die kragbron wat 162 kW verskaf teen 6050 o.p.m. en die wringkrag is ‘n handige 260 Nm teen 2000 o.p.m. , 80 Nm meer is beskikbaar in vierde en vyfde rat wanneer die turbo-aanjaer ten volle in werking gestel word. Die motor is slegs beskikbaar met Renault se ses spoed EDC ratkas met meganiese skakeling d.m.v. die lepels agter die stuurwiel of die rathefboom.

Soos reeds genoem is die buite-afwerking van ‘n besonderse aard terwyl daar in die binnekant die nodige met oorgawe gedoen is. Die voorste sitplekke is verwarm, al die sitplekke is met leer bedek en alle ander nodige toerusting soos radio, outomatiese temperatuur beheerde lugversorger, aanraak skerm, die “RS monitor” sodat die passasiers kan sien wat die werkverrigting is, elektriesbeheerde vensters en sykant spieëls, TomTom navigasie stelsel, drukskakelaar om die kragbron in werking te stel en nog talle ander handige stukke toerusting is geinstalleer.

Om die krag te kan beheer is daar seker gemaak dat die remstelsel die voertuig met gemak en veiligheid tot stilstand kan bring. Groot skyfremme is geinstalleer met rem hulp d.m.v. ABS remme en EBA, EBD en ESC hulpmiddels. Binne in die motor is die nodige lugsakke gemonteer, ISOFix baba stoeltjie ankerpunte, snelheidsbeheer, parkeer afstand monitor vir voor en agter parkering.

Om die motor werklik te kan waardeer moet ‘n mens jou naaste Renault handelaar gaan besoek en dan moet jy genoeg tyd tot jou beskikking hê om ‘n in diepte waardasie te kan doen. Dan bestaan daar ‘n groot moontlikheid dat jy onmiddelik verlief gaan raak op die motor en een gaan aanskaf wat uiter aard niks mee verkeerd is nie.- jy moet net sorg dat jy ten minste R449 900 beskikbaar het. Daar sal vinnig beweeg moet word want daar gaan aanvanklik slegs 60 motors beskibaar wees by uitgesoekte Renault handelaars oor die hele land.