Meksiko le klag teen VSA

Meksiko het ’n amptelike klag ingedien by die Wêreld Handel Organisasie (WHO) oor die omstrede tariewe wat die VSA op staal en aluminium van toepassing gemaak het.

Die optrede volg nadat Kanada en die Europese Unie hulle klagtes ingedien het teen die VSA se 25% heffing op staal en 10% op aluminium invoere.

Meksiko het in sy klagstaat teen die VSA se invoerheffings aangevoer dat dit in stryd is met die 1994 Algemene Ooreenkoms op Tariewe en Handel.

Intussen het die Europese Unie gereedgemaak om heffings in te stel op goedere vanaf die VSA ten einde te vergoed vir die staal en aluminium heffings wat miljarde dollar per jaar sal beloop.

Twyfel bestaan egter of die VSA op enige wyse gedwing kan word om die aangekondigde heffings te laat vaar, maar eerder kan lei tot ’n volskaalse handelsoorlog teen die grootste invoerders soos Kanada, Sjina en die Europese Unie.

Alhoewel president Donald Trump gesê het ’n handelsoorlog skrik hom nie af, want die oorlog sal die VSA maklik wen, maar ontleders is nie oortuig daarvan dat dit enige land tot voordeel gaan strek nie.