Mallet en Botha vrygespreek, minister en DA skuld ‘n verskoning

Nic Mallet en Naas Botha is vrygespreek van enige vorm van rassisme in die Ashwin Willemse sage op SuperSport.

Die verslag, wat deur adv. Vincent Maleka opgestel is, toon dat beide nie rassiste is nie en dat hul geen vorm van rassisme geopenbaar het nie.

Willemse het egter geweier het om deel te neem aan die ondersoek, wat beteken dat hy tot dusver nie aangevat is oor sy swak en bevooroordeelde gedrag nie.  Inteendeel, SuperSport kruip voor die “kwota aanbieder” deur te verklaar dat Willemse steeds ‘n toekoms het by die uitsaaier en dat hul sal uitreik na hom.

Was Willemse wit, sou hy nou op straat gesit het, glo kommentators.

Die VF Plus het die bevinding van adv. Maleka verwelkom en wys daarop dat beide die minister van sport, Tokozile Xasa, en die leier van die DA, Mmusi Maimane, die voorval onmiddellik as rassisme gebrandmerk het ten koste van Botha en Mallett.

“Maimane en minister Xasa het uiters onverantwoordelik opgetree deur Botha en Mallett sonder die korrekte feite voor te hou as rassiste. Dit bewys hulle is self behep met ras en hulle skuld nie net vir Botha en Mallett nie, maar die hele Suid-Afrika ‘n verskoning.

“Dit is nog te verstane dat die ANC sulke skadelike uitlatings sal maak, maar dit is nou duidelik dat die DA dieselfde narratief van wit bevoorregting teenoor swart agtergeblewenheid wil gebruik en misbruik met die aanloop tot aanstaande jaar se algemene verkiesing.

“Die VF Plus wag op die verskoning van mnr. Maimane en minister Xasa”, sê die party in ‘n verklaring.

Foto: Die debakel by Supersport toe Willemse uitgestap het op stel en Botha en Mallet van rassisme beskuldig het