IMF stel skuldplafon voor vir staat

Die IMF glo dat die ANC-regering se staatskuld ‘n skuldplafon moet hê. Die skuldplafon moet bepaal word deur die kapitaalbates van die staat en vereis dat skuld nooit die kapitaalbates van die staat mag oorskry nie.

Dit sal verhinder dat ontsparing plaasvind (die aangaan van lenings sonder sekuriteit), aangesien alle skuld gerugsteun is deur bates wat kan instaan as sekuriteit indien die skuld nie betaal kan word nie. Dit beteken ook dat die belastingbetaler nie die heeltyd moet instaan vir staatskuld nie.

Adv. Anton Alberts van VF Plus sê dat gegewe die land se swak ekonomiese posisie en die oordrewe projeksies van die regering rakende toekomstige ekonomiese groei waarop fiskale skuld gegrond word, is dit duidelik dat die regering te veel skuld aangaan om sy finansiële verantwoordelikhede na te kom.

“‘n Skuldplafon wat net gewysig kan word deur die parlement sal meer oorsig oor die fiskale beleid van die uitvoerende gesag aan die wetgewende gesag gee. Dit sal ‘n nuwe openbare fokus plaas op roekelose besteding deur die regering, asook hulle oor optimistiese projeksies van ekonomiese groei.

“Daar sal gesonde debat in die parlement kan plaasvind rakende die kwessies en die media en burgery sal ook meer druk op die regering kan uitvoer om verantwoordelik op te tree.

“Die VF Plus het verlede jaar net voor die aansuiweringsbegroting ‘n fiskale beleid bekend gestel ten einde die skuldprobleem van die regering aan te spreek. Die beleid vereis dat staatskuld ook beheer word deur middel van ‘n Fiskale Kommissie (FK) wat soos die Reserwebank funksioneer.

“Waar die Reserwebank toesig hou oor monetêre beleid, so hou die FK toesig oor die fiskale beleid deur middel van die BTW. Indien daar ‘n tekort ontstaan op die begroting, moet BTW styg totdat daar weer ‘n balans is tussen inkomste en besteding. Sodra die balans herstel is en die begroting is onder beheer, kan BTW weer verlaag word.

“Dis tyd dat die ANC-regering begin ag slaan op die waarskuwings en voorstelle van die IMF ten einde die ekonomie en die land van die rand van die fiskale afgrond terug te ruk,” sê adv. Alberts.