Ekonomie sal nie herstel nie

“Die afname in die ekonomiese groeikoers van 2,2 % wat Statistiek SA vir die eerste kwartaal vanjaar aangekondig het wys baie duidelik dat die kans vir ‘n ekonomiese herstel en oplewing baie skraal is,” sê mnr Fanie Brink, ‘n onafhanklike landbou-ekonoom.

Hy sê die president, Cyril Ramaphosa, bevind homself tans in dieselfde posisie as wat Vladimir Lenin, die Russiese diktator, kommunis en ateïs, baie jare gelede was toe hy besef het dat Marxisme (Kommunisme) as ‘n ekonomiese stelsel misluk het en dat hy die ekonomie moet gereguleer deur middel van baie dekrete om alle ekonomiese bates, rykdom, groei en werksgeleenthede tussen almal in die land te herverdeel. Almal weet vandag dat hierdie stelsel uiteindelik oor die hele wêreld misluk en verwerp is.

“Ramaphosa loop nou dieselfde pad deur die herverdeling van al die bates en opbrengste van Suid-Afrika deur middel van minimum lone, hoër maatskaplike toelaes, onteiening van grond sonder vergoeding en steeds stygende belasting te reguleer omdat hy glo dat dit die oplossing vir armoede, ongelykheid en werkloosheid sal wees, terwyl dit ook die regering se fiskale gaping, massiewe skuldlas en korrupsie kan befonds.

“Die werklike doelwit is egter om die ANC te help om aan bewind te bly, want daar is niks anders wat belangriker in die lewe van ‘n politikus is as die uitslag van die volgende verkiesing nie, ongeag enige ekonomiese doelwitte. Ongelukkig sal dit tot nadeel van al die mense in die land wees omdat dit nie ekonomiese groei kan skep nie, maar dit eerder sal vernietig.

“Ekonomiese groei kan net geskep word deur die winsgewendheid van al die individuele bedrywe in die primêre, sekondêre en tersiêre sektore van die ekonomie te verhoog en die redes waarom hulle nie in staat is om ‘n groter bydrae tot ekonomiese groei te kan lewer nie, daadwerklik aan te spreek en op te los. Ekonomiese groei is in werklikheid totaal afhanklik van die winsgewendheid van die ekonomie.”

“Selfs lande soos Sjina en Rusland het tot hierdie gevolgtrekking geraak en hul ekonomieë na suiwer kapitalistiese stelsels omgeskakel wat hulle vandag die twee grootste handelsvennote van die VSA gemaak het.

“In hul boek “The One Hour China Book” deur twee Peking Universiteits professore, Jeffrey Towson and Jonathan Woetzel, verduidelik hulle ses kragtige ekonomiese en demografiese mega tendense wat hulle geïdentifiseer het wat die ekonomie van die Volksrepubliek van Sjina gedryf het.

Die eerste mega-tendens ​​is die verstedeliking wat in Sjina plaasgevind het wat die grootste migrasie na stedelike gebiede in die menslike geskiedenis was. In die 1980’s was 80% van die Sjinese landbouprodusente, maar binnekort sal daar 1 miljard Sjinese stedelinge wees. Dit vereis die bou van stede, behuising, busse, metro polisiedienste, parke, paaie, rioolbehandeling, water en elektrisiteits infrastruktuur. Vandag is daar 160 Sjinese stede met meer as 1 miljoen mense – en om dit in perspektief te stel, Europa het 35 sulke stede. Hierdie mega-tendens is besig om die Sjinese fundamenteel te verander deurdat hulle besteebare inkomste per capita met meer as 300% opgeskiet het.

Die tweede mega-tendens is Sjina se groot vervaardigingsbedryf wat die afgelope 30 jaar met meer as 20 keer toegeneem het. Die land vervaardig vandag 80% van die wêreld se lugversorgers, 90% van persoonlike rekenaars, 75% van sonpanele, 70% van selfone en 63% van die wêreld se skoene. Die vinnig groeiende binnelandse mark koop byvoorbeeld 20 miljoen motors, teenoor die VSA se 16 miljoen. Hul handel in landbouprodukte het dramaties toegeneem omdat hulle die winsgewende uitvoergeleenthede kon benut met die beste kwailteit en pryse.

Die derde mega-tendens is Sjina se stygende aantal verbruikers. In 2009 was 18% van die wêreld se middelklas Sjinese en teen 2030 sal dit tot 66% styg. Noord-Amerika en Europa is tans saam 51% wat na verwagting teen 2030 na 21% sal daal, nie omdat hulle armer word nie, maar omdat die Asiatiese middelklas so vinnig styg. Die Bruto Binnelandse Produk (BBP) per capita het in 2015 gestyg van $200 in 1982 tot $5500 in 2015. Met hierdie verhoogde welvaart het die vleisverbruik geweldig gestyg en daarom het Sjina vandag 450 miljoen varke, ongeveer die helfte van die wêreld se varkpopulasie en verbruik hulle 28% van die wêreld se vleis. Kentucky Fried Chicken (KFC) is die nommer een kitskosketting in Sjina met 4 000 restaurante. Dit het ‘n direkte invloed op die groei van die landbouboerdery, infrastruktuur, supermarkte, verkoelde vragmotors, logistiek, huishoudelike elektrisiteit en yskaste om aan die groeiende vraag na vleis te voldoen.

Die vierde mega-tendens is geld, en baie daarvan. Kapitalisme vereis kapitaal en Sjina se finansiële stelsel sal vandag enige kapitalis op enige plek beïndruk. Hul bankdeposito’s is vandag meer as $19 triljoen en groei jaarliks ​​met meer as $2 triljoen. In 2016 was hul buitelandse valutareserwes $3,2 triljoen en hulle is die enkele grootste buitelandse koper van Amerikaanse staatskuld.

Die vyfde mega-tendens vloei voort uit die vorige naamlik Sjina se breinkrag. Die stereotipe van Sjina as ‘n onbeperkte poel van fabriekswerkers wat lang ure vir lae lone sal werk, verander vinnig. In 1993 het Sjina slegs 2,2% van die wêreld se navorsings- en ontwikkelingsinvestering verteenwoordig. Vandag het dit Frankryk, Engeland en die meeste Europese lande verbygesteek, Japan oorskry en is slegs tweede na die VSA.

Die sesde mega-tendens is die Sjinese Internet wat baie vinniger gegroei het na die aanvaarding van die Internet as in die Weste. Vir hulle het dit alles gelyktydig gebeur met video’s, musiek, klets, speletjies, nuus, afsprake, inkopies en nog vele meer.

“Die regering en die Reserwebank in Suid-Afrika daarenteen glo egter, net soos al die sentrale banke in baie ander lande ter wêreld, dat die Bank, volgens sy mandaat ingevolge artikels 223 tot 225 van die Grondwet 36 en die Wet op die Reserwebank (1989) 37) “…prysstabiliteit moet najaag in die belang van gebalanseerde en volhoubare ekonomiese groei” en daarmee ook die geldeenheid moet beskerm wat feitlik onmoontlik is om dit met monetêre beleid te bereik en dit daarom in werklikheid ‘n irrelevant en nie betekenisvolle beleid is nie,” volgens mnr. Brink.